Nuus 11:00
BULLETIN 25 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA vra die Parlement om appèl aan te teken teen die Artikel 89-hofuitspraak ten gunste van president Cyril Ramaphosa
# Nersa gee belanghebbendes meer tyd om kommentaar te lewer oor die opwekkingstariewe
# En Statebondspele: Le Clos wen ‘n rekord 19de medalje
# Build One South Africa sê die Parlement moet dringend appelleer teen die Hooggeregshof in die Wes-Kaap se uitspraak wat die Artikel 89-ampsklagproses teen president Cyril Ramaphosa tydelik gestaak het. Die party sê die besluit vertraag aanspreeklikheid oor die Phala Phala-skandaal. Graham Charters van BOSA het die Nasionale Vergadering versoek om sy grondwetlike plig te verdedig deur ‘n dringende aansoek om appèl in te dien as daar redelike vooruitsigte op sukses is.
Die United African Transformation sê intussen Ramaphosa se oorwinning vrywaar hom nie van aanspreeklikheid nie. Die party se woordvoerder Mighty Mabule sê die hof se besluit is ‘n prosedurele uitspraak en nie ‘n vryspraak nie. Mabule voer aan dat Ramaphosa steeds voor die Parlement verantwoording moet doen, en waarsku dat die vertraging van die proses die openbare vertroue in grondwetlike toesig kan ondermyn:
# Die energiereguleerder, Nersa, het die openbare konsultasietydperk verleng oor sy konsepmarkondersoek na vaste en opwekkingskapasiteitstariewe wat deur elektrisiteitsverspreiders gehef word. Die sperdatum vir skriftelike voorleggings is van 27 Julie na 8 September verskuif om belanghebbendes meer tyd te gee om gedetailleerde terugvoer te verskaf. Charles Hlebela van Nersa moedig elektrisiteitskliënte, munisipaliteite, Eskom, bedryfsgroepe en die publiek aan om kommentaar te lewer voor die finale verslag voltooi word:
# ActionSA het sy steun vir die volle inkontraktering van veiligheidswagte in die Stad Johannesburg herbevestig. Die party sê sekere wagte, wat onder die voormalige burgemeester Herman Mashaba se administrasie ingekontrakteer is, word nie genoeg betaal nie ondanks die feit dat hulle 12-uur skofte werk. Nandi Ndaba van ActionSA sê inkontraktering het reeds salarisse en werkvoordele verbeter sowel as die afhanklikheid van arbeidsmakelaars verminder. Sy versoek die stad om die inkontraktering van alle kwalifiserende veiligheidswagte te voltooi:
# Statebondspele: Die Suid-Afrikaanse swemlegende Chad le Clos het gister geskiedenis by die Statebondspele in Glasgow gemaak toe hy sy 19de medalje verower het. Le Clos het die mans se 4×100-meter vryslag-aflospan tot ‘n opwindende brons-medalje eindstryd gelei, saam met spanmaats Pieter Coetze, Guy Brooks en Ruard van Renen. Hierdie geskiedkundige prestasie oortref die rekord wat hy voorheen met die Australiër, Phil Adams en die Brit, Mick Gault moes deel en hy is nou amptelik die mansatleet met die meeste medaljes in die Statebondspele se geskiedenis.
# En ten slotte rugby: Volgende maand se skole-wedstryd tussen die gasheer, Grey Kollege, en Outeniqua gaan voort nadat borge bekom is om die span van George na Bloemfontein te neem. Die kragmeting was volgens berigte in die gedrang omdat Outeniqua nie die reiskoste van 1,4-miljoen-rand kon bekostig vir die afstand van altesaam een-duisend-400-kilometer nie. Grey se hoof, Braam van Wyk, waarsku ekonomiese druk weens hoë brandstofpryse kan skole dwing om hulle interskole-kragmetings en toere te heroorweeg. Die wedstryd word beplan vir 8 Augustus.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….