Nuus 09:00
BULLETIN 25 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie se getuienisleier bevraagteken ‘n dokter se onafhanklike bevinding oor Suliman Carrim
# President Cyril Ramaphosa bring hulde aan die gestorwe anti-apartheid-aktivis Shanthie Naidoo Tweedie
# En, Statebondspele: Nathan Hendricks wen Suid-Afrika se eerste goue medalje vir swem
# Die Madlanga-kommissie se getuienisleier, Advokaat Adila Hassim, bevraagteken mediese bewyse wat die sakeman van Noordwes, Suliman Carrim se aansoek ondersteun om sy getuienis uit te stel. Hassim het voor die Kommissie getuig professionele mediese riglyne ontmoedig dokters om onafhanklike menings te lewer oor ‘n pasiënt se geskiktheid om aan regsverrigtinge deel te neem. Sy voer aan ‘n onafhanklike mediese ondersoek sou meer gepas wees om te bepaal of Carrim se gesondheid hom toelaat om voor die Kommissie te getuig:
# President Cyril Ramaphosa betreur die afsterwe van die anti-apartheid-aktivis Shantavothie “Shanthie” Naidoo Tweedie in die ouderdom van 91. Ramaphosa beskryf haar as ‘n heldin wat haar lewe gewy het aan die stryd vir ‘n vrye en nie-rassige Suid-Afrika. Naidoo Tweedie moes aanhouding, eensame opsluiting, verbanning en tronkstraf verduur omdat sy geweier het om teen Winnie Mandela en ander ANC-lede te getuig. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê haar nalatenskap sal Suid-Afrikaners steeds inspireer om gelykheid en geregtigheid te handhaaf:
# Eskom het sy openbare oorlegplegingsproses oor die Stad Johannesburg se elektrisiteitskuld tot 22 Augustus verleng. Die stad het sedert Mei meer as 4,3-miljard-rand betaal, maar skuld steeds 3,8-miljard-rand in agterstallige skuld. Die stad het belowe om teen 21 Augustus meer as 5,1-miljard-rand te betaal om onderbrekings in kragvoorsiening te vermy. Eskom se woordvoerder Daphne Mokwena sê hul hersien openbare voorleggings en monitor die stad se nakoming van sy betalingsverpligtinge:
# Die Stad Kaapstad het sy optrede teen onwettige storting verskerp en 247 voertuie in die afgelope jaar geskut, ‘n toename van 133-persent teenoor die vorige jaar. Oortreders kan ‘n voertuigbeslagleggingsboete van twee-duisend-500-rand opgelê word. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê baie stortingsvoorvalle hou verband met onwettige grondbesettings, waar puin gebruik word om grond vir onwettige strukture voor te berei:
# Dis-Chem se medestigter Ivan Saltzman het met onmiddellike ingang as nie-uitvoerende direkteur bedank en daarmee bykans vyf dekades van leierskap by Suid-Afrika se voorste apteek-kleinhandelaar tot ‘n einde gebring. Saltzman het die onderneming in 1978 saam met sy vrou, Lynette gestig, en reeds in Junie as uitvoerende direkteur uitgetree nadat hy tot 2023 die uitvoerende hoof was. Sy uittrede is die finale stap in die kleinhandelgroep se leierskapsoorgang, terwyl Dis-Chem voortgaan onder sy huidige uitvoerende bestuurspan.
# En, Statebondspele: Nathan Hendricks het gisteraand op die Glasgow Statebondspele Suid-Afrika se eerste goue medalje in die swembad gewen. Die 20-jarige het die 100-meter vryslag in die S13-klas in ‘n tyd van 54,54-sekondes gewen. Die oomblik toe hy induik was dit duidelik dit gaan moeilik wees om hom te klop. Hendricks sê dit was sy eerste medalje in ‘n senior internasionale kompetisie, en hy kan dit steeds nie glo nie. Stephen Clegg van Skotland was tweede in 55,16-sekondes, en Matthew Redfern van Engeland derde in 56,86-sekondes.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….