Nuus 08:00
BULLETIN 25 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Advokaat Hassim bevraagteken ‘n dokter se onafhanklike bevinding oor Carrim
# Die Verkiesingskommissie verleng die sperdatum vir kommentaar oor die kode teen waninligting
# En, Statebondspele: Span SA se swemmers skitter met rekords
# Die Madlanga-kommissie se getuienisleier, Advokaat Adila Hassim, bevraagteken mediese bewyse wat die sakeman van Noordwes, Suliman Carrim se aansoek ondersteun om sy getuienis uit te stel. Hassim het voor die Kommissie getuig professionele mediese riglyne ontmoedig dokters om onafhanklike menings te lewer oor ‘n pasiënt se geskiktheid om aan regsverrigtinge deel te neem. Sy voer aan ‘n onafhanklike mediese ondersoek sou meer gepas wees om te bepaal of Carrim se gesondheid hom toelaat om voor die Kommissie te getuig:
# Die Verkiesingskommissie het die sperdatum vir openbare kommentaar oor sy voorgestelde verkiesingsgedragskode oor waninligting tot volgende week verleng. Die verlenging volg op versoeke van belanghebbendes vir meer tyd om die voorgestelde kode te bestudeer en voorleggings voor te berei. Die uitvoerende hoof van die OVK, Sy Mamabolo, sê die konsep is daarop gemik om die verspreiding van valse inligting tydens verkiesings te beperk terwyl vryheid van spraak en politieke deelname beskerm word:
# Die Stad Kaapstad en die Wes-Kaapse regering het in beginsel ‘n ooreenkoms bereik oor die toekoms van die Atlantis Thusong-sentrum. Ingevolge die voorstel sal die stad die eiendom aan die provinsiale regering skenk, wat die sentrum sal bestuur en bedryf terwyl noodsaaklike maatskaplike ontwikkelingsdienste steeds gelewer word. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei en Toerisme, James Vos, sê die ooreenkoms het ten doel om te verseker die sentrum bly ‘n openbare bate en dienste aan die Atlantis-gemeenskap word uitgebrei.
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het ‘n veiligheidsherroeping aangekondig vir 2017 tot 2020 Ford Ranger- en Ford Everest-voertuie wat met die 10R80-ratkas toegerus is. Die herroeping volg op kommer dat ‘n transmissievloeistofpomprat kan faal, wat veroorsaak dat die voertuig krag verloor terwyl dit ry en die risiko van ‘n ongeluk verhoog. Phetho Ntaba van die kommissie het eienaars van die betrokke voertuie aangespoor om hul naaste gemagtigde Ford-handelaar te besoek vir gratis sagteware-opdaterings:
# Statebondspele: Span SA se swemmers het gister uitstekend by die Glasgow 2026 Statebondspele gevaar. Wêreldkampioen Pieter Coetzé het die mans 50-meter rugslag in 24,29-sekondes oorheers en die Spele se rekord twee keer in die uitdunne en halfeindronde verpletter. Sy landgenoot Ruard van Renen het sy halfeindronde gewen met ‘n persoonlike beste tyd van 24,56-sekondes. Hy kwalifiseer vir vandag se finaal as die tweede vinnigste swemmer. Jessica Thompson, Georgia Nel, Rebecca Meder en Caitlin de Lange het die Afrika-rekord in die 4×100-meter vryslag-aflos oortref met ‘n tyd van drie-minute, 38,67-sekondes en brons gewen.
# En krieket: Vier Saterdae met dubbel-wedstryde wag op aanhangers in die vyfde seisoen van die SA20, wat op 17 Januarie in Gqeberha afskop. Dit word gespeel tussen dieselfde spanne in verlede jaar se eindstryd in Kaapstad, toe Sunrisers Eastern Cape die Pretoria Capitals geklop het vir hulle derde titel. Nuweland gaan volgende jaar weer die eindstryd aanbied, terwyl Boland-park in die Paarl die eerste keer ‘n kwalifiseringswedstryd kry. Die liga se kommissaris, Graeme Smith, sê die wiele is aan die rol om weereens ‘n ongelooflike maand van krieket te verseker.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….