Nuus 14:00
BULLETIN 23 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Johnson erken sy het die Parlement mislei oor die Khumalo-ondersoek
# Die DRK sê Ebola-sterftes styg tot meer as ‘n duisend
# En sokker: SAFA ontken berigte dat Bafana Bafana se afrigter se kontrak verleng is
# Die hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, Andrea Johnson, het voor die Madlanga-kommissie erken sy het die parlementêre ad hoc-komitee verkeerde inligting gegee oor die tydlyn van die ondersoek na die hoof van Misdaad-intelligensie, Dumisani Khumalo. Sy het geantwoord op vrae van kommissaris Sesi Baloyi. Johnson het toegegee sy het verkeerdelik beweer die Artikel 27-verwysing het haar in middel-Desember 2024 bereik, maar sy het reeds op 6 Desember ‘n ondersoek gemagtig:
# Activists and Citizens Forum sê die gewese nasionale direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, moet volle verantwoordelikheid aanvaar vir die uitslag van die Nkabinde-ondersoek. Die ondersoek het die omstrede Suid-Gautengse direkteur van Openbare Vervolging, Andrew Chauke, vrygespreek van al Batohi se aanklagte teen hom. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê ‘n gulde geleentheid is verspeel om die Openbare Vervolgingsgesag te suiwer:
# Die Stad Kaapstad sê vennootskappe met belangrike bedryfsliggame help om die metro se belangrike groeisektore te versterk. Dit het in die 2025/26-boekjaar bygedra tot 15-duisend-948 regstreekse werksgeleenthede en 18,9-miljard-rand se beleggings. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê die projekte word gelewer deur die stad se vennote in spesiale diensvoertuie wat in belangrike bedrywe werksaam is:
Nuus uit die buiteland:
# Die aantal bevestigde Ebola-gevalle in die Demokratiese Republiek die Kongo het tot twee-duisend-536 gestyg, insluitend een-duisend-en-33 sterftes. Die land se Openbare Gesondheidsinstituut sê in sy jongste verslag 50 nuwe gevalle is Maandag in die oostelike provinsies Ituri en Noord-Kivu opgespoor. ‘n Uitbreking het nog nooit tevore so vinnig versprei nie. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het die situasie tot ‘n internasionale noodtoestand op die gebied van openbare gesondheid verklaar nadat die siekte ook na Uganda versprei het en weens verdere internasionale reisgevare.
# Sokker: Suid-Afrika se beheerliggaam, SAFA, verwerp berigte dat Bafana Bafana se hoofafrigter, Hugo Broos, ʼn aanbod ontvang het om sy kontrak met ʼn jaar te verleng en sê dis vals en misleidend. Vroeër die week is berig SAFA het sy kontrak verleng omdat die kwalifiseerders vir volgende jaar se Afrikabekertoernooi in September begin. Broos se kontrak verstryk die einde van dié maand. SAFA sê ʼn amptelike aankondiging oor die samestelling van Bafana Bafana se tegniese span sal gedoen word sodra die toepaslike prosesse afgehandel is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-652-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-88-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 93-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….