Nuus 13:00
BULLETIN 20 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# FOSA vra Khan se getuienis voor die Madlanga-kommissie nadat hy uit die hospitaal ontslaan is
# Die Padongelukkefonds raai eisers aan om hul skikkingsgeld te beskerm
# En sokker: Die kampioen Spanje wen 827-miljoen-rand se Wêreldbeker-prysgeld
# Forum for South Africa vra die geskorste adjunkhoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan, om voor die Madlanga-kommissie te getuig sodra hy voldoende herstel het. Hy is Vrydag uit die hospitaal ontslaan nadat hy vroeër die maand voor sy huis in Houghton, Johannesburg, geskiet is. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, neem kennis van die bevestiging deur Khan se regsverteenwoordiger dat voorbereidings nou sal begin sodat hy voor die kommissie kan getuig:
Soil of Africa verwelkom intussen die nuus dat Khan uit die hospitaal ontslaan is. Goodwill Sofute van die beweging wens Khan volle herstel toe en vra ‘n deeglike ondersoek na die voorval. Hy sê getuies en openbare amptenare moet beskerm word om te verseker hulle kan sonder vrees, intimidasie of geweld aan regsverrigtinge deelneem:
# Die Padongelukkefonds versoek eisers om hul skikkingsuitbetalings te beskerm en verantwoordelik te bestuur tydens Nasionale Spaarmaand. Die fonds sê vergoeding moet langtermyn finansiële sekerheid bied vir slagoffers van motorongelukke en hul gesinne. Eisers word aangeraai om onafhanklike finansiële raad in te win, nie skikkingsbesonderhede te openbaar nie en versigtig te wees vir swendelary. Die fonds sê ook eisers moet slegs deur sy amptelike kanale inligting bevestig om hulself teen bedrog en waninligting te beskerm.
# Sokker: Spanje het ‘n bedrag van 827-miljoen-rand gewen toe hy gister in Amerika sy tweede Wêreldbeker-titel ingepalm het. Die kampioen van 2010 het vanjaar se toernooi gewen deur die verdedigende kampioen, Argentinië, in New Jersey 1-0 te verslaan in bykomende tyd. Argentinë het 545-miljoen-rand ontvang. Die wêreldbeheerliggaam, FIFA, het ‘n rekord-bedrag van 10,83-miljard-rand se prysgeld uitgedeel. Dit is behalwe die 14,4-miljard-rand wat aan die 48 deelnemende spanne betaal is vir voorbereiding en kwalifiserings-bonusse.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-83-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-102-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-19-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 86-dollar-26-sent per vat.
# En ten slotte: Die Parlement sê hy sal voortgaan met sy Mandela-maand-program om oudpresident Nelson Mandela se nalatenskap te vereer, deur gemeenskappe te bou wat omgee en diens aan ander te lewer as deel van die alledaagse lewe. Hoewel Suid-Afrika sedert die aanbreek van demokrasie beduidende vordering gemaak het, bly armoede, werkloosheid en ongelykheid van die land se grootste uitdagings. Die Parlement sê die bou van die Suid-Afrika wat Mandela in die vooruitsig gestel het, is ‘n gedeelde verantwoordelikheid. Die Parlement sal voortgaan om sy grondwetlike mandaat na te kom, maar sê blywende verandering hang af van die gesamentlike pogings van alle Suid-Afrikaners.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….