Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 20 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met sokker: Frankryk se kaptein, Kylian Mbappé, het die eerste speler geword om ‘n Wêreldbekertoernooi se Goue Stewel twee keer te wen. Sy tien doele maak hom die Wêreldbeker se beste doelskieter ooit met altesaam 22. Kaptein Rodri, wat ‘n sleutelspeler was in Spanje se opmars na ‘n tweede titel, het die Goue Bal vir beste speler gewen en sy 19-jarige spanmaat, Pau Cubarsi, is beste jong speler. Unai Simón van Spanje het die Goue Handskoen vir beste doelwagter ontvang nadat hy in agt wedstryde net een doel afgestaan het.
Spanje het intussen ‘n bedrag van 827-miljoen-rand gewen toe hy sy tweede Wêreldbeker-titel ingepalm het. Argentinë het 545-miljoen-rand ontvang. Die wêreldbeheerliggaam, FIFA, het ‘n rekord-bedrag van 10,83-miljard-rand se prysgeld uitgedeel. Dit is behalwe die 14,4-miljard-rand wat aan die 48 deelnemende spanne betaal is vir voorbereiding en kwalifiserings-bonusse.
# Rugby: Die Springbokke verwelkom verskeie gereelde spelers terug, insluitend kaptein Siya Kolisi, Eben Etzebeth, Lood de Jager en Sacha Feinberg-Mngomezulu, vir volgende maand se eenmalige toets teen Argentinië in Buenos Aires. Die Bokke het bonuspunt-oorwinnings oor Engeland, Skotland en Wallis behaal aan die begin van die Nasieskampioenskap. Afrigter Rassie Erasmus sê die groep sal verdeel word, met spelers wat agterbly om voor te berei vir die All Blacks se besoek:
# Gholf: Die Nieu-Seelander Ryan Fox het die 154ste Ope en sy eerste major-titel gewen op Royal Birkdale in Engeland. Die 39-jarige Fox het een hou voor die Amerikaner Cameron Young klaargemaak en die Claret Jug omhoog gehou. Nog ‘n Amerikaner, Sam Burns, was derde, en sy landgenoot, wêreld-nommer-een Scottie Scheffler, en Tommy Fleetwood van Engeland saam vierde. Fox sê hy het byna sy gholfstokke gebêre, maar is bly hy het nie:
# En motorsport: Die Mercedes-renjaer Kimi Antonelli het sy sesde oorwinning van die seisoen behaal in die Belgiese Grand Prix. Die 19-jarige Italianer moes terugveg en Charles Leclerc van Ferrari verbysteek nadat hy sy voorsprong verloor het tydens ‘n virtuele veiligheidsmotor-ontplooiing. Hy is nou die eerste renjaer in vyf jaar om vanuit die voorste wegspringplek op Spa-Francorchamps te wen. Max Verstappen van Red Bull was derde. Antonelli het nou ‘n voorsprong van 45 punte op Lewis Hamilton van Ferrari in die bestuurders-kampioenskap, en 50 op sy spanmaat, George Russell.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….