Nuus 09:00
BULLETIN 18 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Feroz Khan is uit die hospitaal ontslaan ná ‘n skietvoorval in Johannesburg
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge is bekommerd oor gesondheidsorgpersoneel wat Suid-Afrika verlaat
# En: Nigerië ontruim byna een-duisend-500 burgers uit Suid-Afrika
# Die geskorste hoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan, is gister uit die hospitaal ontslaan nadat hy vroeër hierdie maand in Houghton, Johannesburg, geskiet is. Khan is na ‘n onbekende plek geneem waar hy met rehabilitasie sal voortgaan. Hy is geskiet, slegs enkele dae voordat hy by die Madlanga-kommissie sou verskyn het. Khan se regsverteenwoordiger, Mohammed Valley, het aan SABC News gesê die Madlanga-kommissie is in kennis gestel dat hy ontslaan is:
Die burgerregtebeweging, Soil of Africa, vra intussen alle belanghebbendes vir volle samewerking met die Kommissie en om toe te laat dat sy werk sonder onnodige vertragings voortgaan. Die Kommissie het die hoof van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, Andrea Johnson, gedagvaar om volgende week te verskyn. Johnson het nie hierdie week opgedaag vir haar getuienis nie en ‘n mediese sertifikaat ingedien. Soil of Africa se woordvoerder, Luzuko Sofute, sê kommissies van ondersoek speel ‘n noodsaaklike rol in die bevordering van deursigtigheid en aanspreeklikheid:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê hulle betrek gesondheidsorgorganisasies om die impak beter te verstaan, van gesondheidsorgpersoneel wat Suid-Afrika verlaat. Die organisasie sê meer as 125-duisend gesondheidsorgwerkers het die land tussen 2013 en verlede jaar verlaat, wat bykomende druk op die gesondheidstelsel plaas. Makone Maja van die instituut sê die besprekings sal help om planne te ontwikkel om opgeleide gesondheidsorgwerkers te behou en die verlies van talent na ander lande te verminder.
# Nigerië het die ontruiming van byna een-duisend-500 van sy burgers uit Suid-Afrika voltooi na weke van onrus teen immigrante. Die ontruimings het plaasgevind tussen 10 Junie en 15 Julie, te midde van toenemende druk op ongedokumenteerde buitelandse burgers om die land te verlaat. Nigerië veroordeel xenofobie en geweld teen buitelandse burgers, maar sê hulle sal voortgaan om deur middel van diplomatieke kanale met Suid-Afrika te skakel. Ander Afrikalande, insluitend Uganda, Ghana en Mosambiek, het ook die afgelope weke burgers gerepatrieer.
# Rugby: Lyle Matthews het in sy debuutwedstryd vir die Sharks drie drieë gedruk in die eerste helfte van hul 26-24 Curriebeker-oorwinning Vrydagaand oor die Pumas in Mbombela. Benewens Matthews se driekuns, het Kerron van Vuuren ook oorgeduik met Tim Swiel wat met drie doelskoppe geslaag het. Vir die Pumas het Lundi Msenge, Chyle van Zyl, Tino Swanepoel en JJ Scheepers elk ‘n drie gedruk, met Nevaldo Fleurs wat twee daarvan verdoel het. Die oorwinning het die Sharks vyf punte op die punteleer besorg, met die Pumas wat twee verdien het met hul verloorbonuspunt.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Rooibosraad het die “Rooibos in die Ruimte”-projek van stapel gestuur, wat Rooibos-saad in Oktober na die Internasionale Ruimtestasie sal stuur om te vas te stel hoe die ruimte plantegroei beïnvloed. Die inisiatief, ondersteun deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimteagentskap en MaxIQ Space, sal leerders van sewe Sederberg-skole in die Wes-Kaap betrek wat die saad in die ruimte sal vergelyk met dié wat op aarde gekweek word. Dawie de Villiers van die raad sê die projek is daarop gemik om navorsing oor volhoubare landbou te bevorder.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….