Nuus 08:00
BULLETIN 18 Julie 08 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê die Suider-Afrikaanse Doeane-unie ontwikkel om aan eise te voldoen
# Die Tutu- en Mandela-stigtings verwerp die beplande betogings teen migrante op Mandela-dag
# En rugby: Die Bokke het nog net sewe keer teen Wallis verloor
# President Cyril Ramaphosa sê die Suider-Afrikaanse Doeane-unie bly een van Suid-Afrika se grootste strategiese bates. Ramaphosa het die vierde Suid-Afrika-Namibië Bi-nasionale Kommissie-sakeforum in Johannesburg toegespreek. Hy sê as die wêreld se oudste doeane-unie toon SADU merkwaardige veerkragtigheid. Die president sê die unie het ontwikkel om te voldoen aan die eise van ‘n veranderende wêreldekonomie:
# Die Desmond en Leah Tutu Erfenis-stigting en die Nelson Mandela-stigting veroordeel die March and March-beweging se plan om hul 67 minute gemeenskapsdiens op Mandela-dag te gebruik vir beplande betogings teen migrante. ‘n March and March plakkaat met die opskrif, Honouring the People’s President, bevat name soos Nelson Mandela, Winnie Madikizela-Mandela, Walter Sisulu, Aartsbiskop Desmond Tutu en Zephania Mothopeng, ter ondersteuning van optogte wat vandag beplan word. Die stigtings sê Mandela en Tutu het albei begryp demokrasie vereis daadwerklike deelname, kragtige debat en die vryheid om kritiek uit te spreek teen diegene in magsposisies.
Build One South Africa het intussen sy ‘dubbel-dag’ Mandeladagveldtog van stapel gestuur, wat Suid-Afrikaners aanspoor om Mandela se nalatenskap te vereer met gemeenskapsdiens en demokratiese deelname. Partylede sal vandag 67 minute gebruik om hul gemeenskappe te dien en ook minstens 67 stemgeregtigdes aanmoedig om te registreer vir die verkiesing op 4 November. BOSA-leier Mmusi Maimane sê Mandela se nalatenskap word die beste vereer deur gemeenskappe te dien en die demokrasie te ondersteun.
# Die DA in die Wes-Kaap vra die nasionale regering om dringend ‘n permanente provinsiale polisiekommissaris aan te stel ten einde voortgesette geweldsmisdaad in gemeenskappe te bekamp. Die provinsiale polisiekommissaris, Thembisile Patekile, het aan die einde van verlede maand afgetree na ‘n merkwaardige loopbaan van 40 jaar in die polisie. Benedicta van Minnen van die DA sê die Wes-Kaap kan nie voortgaan om toenemend gesofistikeerde misdaadnetwerke te beveg sonder permanente leierskap, strategiese rigting en verantwoordbaarheid op die hoogste vlak nie:
# Die Springbokke het tot nou toe slegs sewe toetse teen Wallis verloor en 36 van hul vorige 44 wedstryde gewen. Die twee spanne pak mekaar vandag vir die 45ste keer in ‘n Nasieskampioenskap-wedstryd in Durban. Die Springbokke het hul vorige twee wedstryde in die kompetisie teen Engeland en Skotland gewen, terwyl Wallis vir Fiji geklop het, maar teen Argentinië vasgeval het. Die wêreldkampioene se grootste oorwinning oor Wallis was ‘n 96-13 sege op Loftus Versfeld in Junie 1998. Hulle het Wallis ook in November met 73-0 in Cardiff kafgedraf.
# En motorsport: Die wêreldkampioenskapsvoorloper, Kimi Antonelli, het die beste tyd vir Mercedes opgestel in Vrydag se tweede oefenronde vir die naweek se Belgiese Grand Prix. Die verdedigende kampioen, Lando Norris van McLaren was tweede, met Max Verstappen in sy Red Bull derde. Norris is met tien wegspingplekke vir Sondag se wedren gestraf nadat sy motor ‘n nuwe battery moes kry. Die sewemalige kampioen Lewis Hamilton was vierde vir Ferrari, voor Isack Hadjar in die tweede Red Bull, en Oscar Piastri in die tweede McLaren. Franco Colapinto was sewende vir Alpine, met Antonelli se spanmaat, George Russell agtste.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….