Nuus 07:00
BULLETIN 15 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voorsitter van die Ampsklagkomitee is vol vertroue voor Ramaphosa se hofaansoek
# Meer as 70-duisend mense is by die Musina-repatriasiesentrum verwerk
# En Benjamin Netanyahu waarsku teen verskerpte aanvalle as Iran Israel aanval
# Die parlementêre Ampsklagkomitee se voorsitter, Makashule Gana, sê hy vertrou die Wes-Kaapse Hooggeregshof sal toelaat dat die Artikel 89-ampsklagproses voortgaan ten spyte van president Cyril Ramaphosa se regsuitdaging. Die president wil hê die proses moet opgeskort word hangende die hersiening van die onafhanklike Artikel 89-paneel se verslag wat bevind het daar is ‘n prima facie-saak dat hy vrae oor die Phala Phala-kwessie moet antwoord. Gana, wat as die tweede respondent in die saak aangedui word, hou vol die Parlement het ʼn grondwetlike plig om voort te gaan:
# Die Departement van Binnelandse Sake sê meer as 70-duisend mense is by die Musina-repatriasie-sentrum in Limpopo verwerk. Die sentrum maak die vinnige verwerking en kontrolering van ongedokumenteerde buitelanders moontlik, en dra by tot doeltreffende deurgang by die Beitbrug-grenspos. Die meeste mense wat gerepatrieer word, is van Malawi, Zimbabwe en Mosambiek. Binnelandse Sake in Limpopo se bestuurder, Albert Matsaung, sê die aantal ongedokumenteerde migrante by die sentrum neem daagliks af:
# Die Minerale Raad van Suid-Afrika sê mynmaatskappye moet saamwerk om blywende voordele vir gemeenskappe te lewer in plaas daarvan om op individuele maatskaplike en arbeidsplanne staat te maak. Die uitvoerende hoof van die raad, Mzila Mthenjane, sê hoewel die bedryf sedert 2004 meer as 100-miljard-rand in gemeenskapsprojekte belê het, is meer gekoördineerde pogings nodig om armoede, werkloosheid en swak infrastruktuur aan te pak. Mthenjane sê sterker vennootskappe met die regering en ander belanghebbendes is nodig om werk te skep en plaaslike ekonomieë te laat groei.
# Die VF Plus vra die polisie om sigbare patrollies en doelgerigte misdaadvoorkoming in Malmesbury te verhoog ná ‘n toename in bendeverwante geweld. Amber Booysen van die party sê inwoners leef in vrees nadat twee mense tydens die jongste skietvoorval dood en tien ander gewond is, insluitend ‘n driejarige kind. Booysen vra die owerhede om meer hulpbronne beskikbaar te stel en gereelde misdaadvoorkomingsoperasies uit te voer om bendegeweld hok te slaan en veiligheid in die geteisterde gemeenskappe te herstel:
# Eerste minister, Benjamin Netanyahu, het gewaarsku dat Israel kragtig teen Iran sal optree indien dié land Israel aanval. Sy opmerkings volg ná ʼn militêre skermutseling verlede maand toe Israel petrochemiese aanlegte in die suidweste van Teheran aangeval het uit vergelding na ʼn groot Iranse missielaanval. Daar was die afgelope dae ook ʼn aansienlike toename in aanvalle tussen Amerika en Iran. Netanyahu sê hulle is voorbereid op elke scenario. Hy sê die tyd is verby dat Israel aangeval kan word sonder dat die oortreders ʼn groot prys daarvoor betaal.
# Krieket: Indië loop met 1-0 voor in hul eendagreeks van drie wedstryde teen Engeland na ʼn sespaaltjie-sege in die eerste wedstryd op Edgbaston. Axar Patel het vier paaltjies laat kantel en Engeland was op 258 almal uit ten spyte van Joe Root se onoorwonne 76. Daarna het kaptein Shubman Gill se 80 van 75 balle en ʼn 102-lopie-vennootskap tussen Patel en Washington Sundar Indië se oorwinning beklink met meer as vier boulbeurte oor. Dis Engeland se sewende nederlaag in die laaste tien eendagwedstryde. Die tweede kragmeting vind môre in Cardiff plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-70-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-615-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-41-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….