Nuus 09:00
BULLETIN 14 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa bring hulde aan die ontslape leier van Katar
# Die regering versterk vennootskappe om die uitrol van Lenacapavir te ondersteun
# En sokker: Vier voormalige kampioene speel in die Wêreldbeker-halfeindronde
# President Cyril Ramaphosa het hulde gebring aan die gewese leier van Katar, sjeik Hamad bin Khalifa Al Thani, en hom as ‘n visioenêre leier beskryf. Die 74-jarige sjeik wat Katar se ekonomie verander het in die ryk, wêreldwye mag wat dit vandag is, is Sondag oorlede. Hy het die Golf-staat van 1995 tot sy bedanking in 2013 regeer. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Katar is ʼn model van vrede, ontwikkeling, vooruitgang en wêreldwye invloed wat geïnspireer is deur sjeik Hamad se buitengewone leierskap:
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, sê die regering sal voortgaan om hulpbronne te mobiliseer en vennootskappe te versterk om die nuwe langwerkende MIV-voorkomingsinspuiting, Lenacapavir, te ondersteun. Die baakbreker-medikasie word elke ses maande as twee inspuitings toegedien, as ‘n hoogs doeltreffende langwerkende voorkomingsopsie aan pasiënte. Motsoaledi sê meer moontlikhede stel mense in staat om toegang tot voorkomende behandeling te verkry wat by hul omstandighede en voorkeure pas. Hy sê die bekendstelling van Lenacapavir is die volgende fase in die evolusie van MIV-voorkoming en versterk Suid-Afrika se pogings om nuwe infeksies te beëindig.
# Die Wes-Kaapse polisie het ʼn 27-jarige man aangekeer in verband met Sondag se massaskietvoorval in Wesbank, Malmesbury. Volgens voorlopige aanduidings het ʼn groep mense Sondag in die vroeë oggendure buite ʼn woning gestaan toe onbekende verdagtes op hulle losgebrand het. ʼn Twee-en-twintigjarige man en 21-jarige vrou is dood, en ʼn kleuter en sewe volwassenes is beseer. Die polisiewoordvoerder, Andrè Traut, sê die verdagte sal vandag in die Malmesbury-landdroshof verskyn:
# Tien lande, Frankryk, die Verenigde Koninkryk, Duitsland, Oekraïne, Denemarke, Italië, Nederland, Noorweë, Swede en Spanje, het die Geïntegreerde Koalisie Teen Ballistiese Missiele gestig om Europa teen ballistiese missiele te beskerm. Dit volg terwyl Oekraïne toenemend onder Russiese ballistiese missiele deurloop. Die koalisie sê hy erken die toenemende bedreiging van ballistiese missiele en die noodsaaklikheid om verdedigingsvermoë op te skerp om die Europese vasteland se veiligheid te beskerm. Hy sê Europa se beskerming vereis globale, geïntegreerde missiel-verdediging-argitektuur om toekomstige missiele af te weer en te vernietig.
# Sokker: Die Wêreldbekertoernooi het die voorlaaste ronde bereik met vier voormalige kampioene wat nog oorbly. Die tweemalige kampioen, Frankryk, en 2010 se kampioen, Spanje, pak mekaar vanaand in die eerste halfeindstryd in Dallas, Texas. Môreaand kom die verdedigende en driemalige kampioen, Argentinië, in Atlanta te staan teen 1966 se kampioen, Engeland. Die uitspeelstryd om derde plek word Saterdag in Miami beslis, en Sondag gaan die wenners van die twee halfeindstryde mekaar in New York die stryd aansê om die gesogte goue beker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-553-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-15-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….