Nuus 09:00
BULLETIN 13 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Britse driedubbele moordverdagte word binnekort uitgelewer
# Minister Chikunga verwerp bewerings van die bevordering van werksgeleenthede
# En, die Amerikaanse weermag voer ‘n nuwe vlaag aanvalle teen Iran uit
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê die voortvlugtige Ndodana Mkhanyisi Tshuma sal aan Brittanje uitgelewer word sodra al die nodige dokumente onderteken is. Die 45-jarige Zimbabwiese burger, wat deur Interpol gesoek word vir die moord op sy vrou en twee kinders in die Verenigde Koninkryk, is verlede week in Johannesburg in hegtenis geneem. Kubayi sê Suid-Afrikaanse owerhede het eers van Tshuma se status bewus geword nadat hy verlede Sondag in die land aangekom het:
# Die minister van Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, ontken bewerings dat sy werksgeleenthede in die staatsdiens vir vriende en familielede beïnvloed of gefasiliteer het. ‘n Fluitjieblaser het ʼn klag teen die minister en haar adjunk, Steve Letsike, by die Staatsdienskommissie ingedien waarin beweer word dat hulle familie en vriende aanstel in poste in die departement en hul privaat kantore. Die departement se woordvoerder, Cassius Selala, sê alle aanstellings word deursigtig, regverdig en volgens meriete gedoen:
# Amerika se weermag het gisteraand ʼn nuwe vlaag aanvalle teen Iran uitgevoer en tientalle teikens op verskeie terreine getref. Amerika se Sentrale Bevel sê die weermag het Iranse lugafweerstelsels, radarstasies aan die kus en missiel- en hommeltuig-persele getref. Teheran het gisteroggend Amerikaanse fasiliteite in state reg oor die Golf aangeval nadat Amerika Saterdagaand sowat 140 Iranse militêre terreine getref het. Die Sentrale Bevel sê hy sal voortgaan om Iran se aanvalsvermoë op burgerlike seevaarders en handelskepe wat vryelik deur die Straat van Hormoes beweeg, te vernietig.
# Gholf: Tom Kim van Suid-Korea het sy eerste PGA Toer-titel in drie jaar opgeraap toe hy die Skotse Ope by die Renaissance-klub gewen het. Die 24-jarige Kim het ʼn oorwinning van twee houe oor die Australiër, Min Woo Lee, behaal om sy vierde PGA Toer-titel te buit. Die Skot, Robert MacIntyre, is met vier houe minder gelykop derde saam met die Brit, Matt Fitzpatrick, Keita Nakajima van Japan en die Amerikaner, Johnny Keefer. Rory McIlroy van Noord-Ierland is sewende. Kim sê na ʼn paar moeilike jare waardeer hy hierdie oorwinning selfs meer:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-806-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-57-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-87-sent per vat.
# En om mee af te sluit, die Wes-Kaapse LUR vir Kultuursake en Sport, Ricardo Mackenzie, het sy meegevoel betuig na die dood van sokkerspeler Jayden Adams en rugbyspeler Luqobo Makwedini. Adams was ‘n Bafana Bafana-middelveldspeler wat Suid-Afrika in die FIFA Wêreldbeker-toernooi verteenwoordig het, en Makwedini was ‘n voormalige SA o.18-rugbyspeler. Mackenzie sê hul afsterwe is ‘n verlies vir hul families, spanmaats en Suid-Afrika se sportgemeenskap. Hy het die atlete beskryf as rolmodelle wat jongmense deur toewyding en harde werk geïnspireer het, en blywende nalatenskappe agtergelaat het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….