Nuus 18:00
BULLETIN 10 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa vra vir wêreldwye verbintenis tot gehalte onderwys
# Die adjunkminister van Onderwys gryp in met vertragings in NSFAS-betalings aan Unisa-studente
# En, die Wêreldgesondheidsorganisasie sê die Ebola-uitbreking in die Demokratiese Republiek die Kongo versprei steeds
# President Cyril Ramaphosa het wêreldleiers versoek om groter beleggings in onderwys te maak, aangesien dit noodsaaklik is vir ekonomiese groei en sosiale ontwikkeling. Ramaphosa het tydens die Transforming Education Summit by die UNESCO-hoofkwartier in Parys gesê lande moet van beloftes na aksie oorgaan deur toegang tot gehalte onderwys te verbeter, onderwysers te ondersteun en jongmense voor te berei vir die vaardighede wat in die toekoms nodig gaan wees:
# Die adjunkminister van Hoër Onderwys en Opleiding, Yusuf Cassim, het ingegryp ná vertragings met die uitbetaling van NSFAS-toelaes aan meer as 93-duisend Unisa-studente. Die universiteit het tydens ‘n vergadering met sy bestuur, studenteleiers en NSFAS-verteenwoordigers gesê ‘n stelselfout het die vertragings veroorsaak nadat befondsing op 2 Julie ontvang is. Cassim sê hy sal met die NSFAS-administrateur in gesprek tree oor die uitbetalingskedule en het Unisa versoek om maandelikse datatoelaes vir afstandstudente te herstel.
# Die vakverbond SAFTU sê hy veroordeel die grondwetlike wysiging in Zimbabwe wat president Emmerson Mnangagwa toelaat om tot 2030 aan bewind te bly. Die nuwe wet wat in die Parlement aanvaar is, verleng presidensiële en parlementêre termyne van vyf tot sewe jaar. SAFTU se woordvoerder, Asive Dyani, sê die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap kan nie aanvoer dat hy demokrasie beskerm as hy slegs ingryp wanneer regerings deur militêre staatsgrepe omver gewerp word nie, maar stilbly wanneer grondwette gemanipuleer word om die dieselfde doel te bereik nie:
# Vier uit elke vyf nuwe Ebola-gevalle in dele van die Demokratiese Republiek die Kongo het geen bekende verband met bestaande pasiënte nie. Die Wêreldgesondheidsorganisasie waarsku die werklike omvang van die uitbreking kan twee tot vier keer groter wees as wat amptelike data aandui. Regeringsdata wat gister vrygestel is, toon een-duisend-792 mense is tydens die uitbreking in die noordooste besmet en tot dusver is 625 dood. Owerhede het begin om 21-duisend gemeenskaps-gesondheidswerkers op te lei om huis-tot-huis besoek af te lê, moontlike gevalle te identifiseer en mense met simptome aan te moedig om behandeling te ontvang.
# Krieket: Australië se T20-Big Bash League begin vanjaar in Chennai en word die eerste buitelandse liga om die reuse- Indiese mark te betree. Die aankondiging is gedoen tydens die Indiese premier, Narendra Modi, se besoek aan Melbourne. SuperSport berig Melbourne Rebels en die verdedigende kampioen, Perth Scorchers, sal die openingswedstryd op 12 Desember in Chennai speel. Dis deel van ‘n weeklange fees in Indië waartydens Australiese kultuur, sake en sport tentoongestel sal word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-30-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-410-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-98-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 75-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….