Nuus 13:00
BULLETIN 8 July 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu vra dringende ingryping by munisipaliteite met finansiële probleme
# Minstens 14 mense sterf in Amerikaanse aanvalle in Iran
# En tennis: Wimbledon bereik die halfeindronde van die enkelspel
# Die vakverbond Cosatu vra dringende ingryping om die krisis te hanteer van munisipaliteite met finansiële probleme. Dit volg nadat die Nasionale Tesourie tydelik 13,5-miljard-rand se befondsing aan 69 munisipaliteite weerhou het weens nie-nakoming. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê hulle erken die noodsaaklikheid om finansiële dissipline in te stel, maar is bekommerd oor die onbeplande gevolge wanneer fondse weerhou word:
Activists and Citizens Forum verwelkom die besluit. Woordvoerder Dennis Bloem sê wydverspreide korrupsie en swak bestuur veroorsaak dat basiese dienste nie gelewer word nie, al het inwoners daarvoor betaal:
# Die GOOD-party het die Stad Kaapstad se voorgestelde toepassing van verordeninge oor die voer van voëls in agterplase as oormatige staatsinmenging veroordeel. Sekretaris-generaal Brett Herron sê dit gaan nie oor voëls nie, maar oor ‘n stad wat voortdurend persoonlike aangeleenthede wil beheer en telkens nuwe regverdiging daarvoor vind. Hy voeg by Kapenaars is vroeër meegedeel hulle mag nie ‘n Palestynse vlag op hul eie mure verf nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Iranse Ministerie van Gesondheid sê 14 mense is dood en 78 beseer in die onlangse vlaag Amerikaanse aanvalle in die land. Die Amerikaanse Weermag het die afgelope 48 uur 170 teikens aangeval, insluitend meer as 60 klein vaartuie van die Islamitiese Revolusionêre Wagkorps in die Seestraat van Hormoes. Iran het reageer met vergeldingsaanvalle op Amerikaanse basisse in Bahrein, Koeweit en Katar. Albei lande waarsku hulle sal vergeldingsaanvalle verskerp indien die spanning voortduur. Iran se hoofonderhandelaar, Mohammad Baqer Qalibaf, het intussen beloof die seestraat sal onder Iranse beheer bly.
# Tennis: Wimbledon is nou in die halfeindronde-fase en die sewende-gekeurde Amerikaner Coco Gauff is die hoogste gekeurde oor in die vroue-trekking. Sy speel vanmiddag teen die tiende-gekeurde Tsjeg Karolina Muchová, terwyl nog ‘n Tsjeg, die negende-gekeurde Linda Nosková, vir Marta Kostyuk van Oekraïne pak vir ‘n plek in Saterdag se eindstryd. In die mans-afdeling word ‘n riller verwag tussen die topgekeurde verdedigende kampioen, Jannik Sinner van Italië, en die sewemalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië. Die plaaslike promotorskeuse Arthur Fery speel teen die tweede-gekeurde Duitser Alexander Zverev.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 18-rand-70-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-794-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-108-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 77-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….