Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 9 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Haaie se Junior Springbok-stut, Kai Pratt, het besluit om sy B-monster te laat toets nadat hy positief getoets het vir ‘n anaboliese steroïde. Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport het die positiewe toets bevestig. Pratt het onlangs weens ‘n besering aan die Suid-Afrikaanse onder-20-span onttrek. Hy is in April getoets, kort voor die begin van die Onder-20-kampioenskap in Gqeberha. Sport24 berig dat ‘n datum nog bepaal moet word vir die res van die proses. Pratt het nog nie besluit of hy die bewerings gaan betwis nie.
Die Springbok-vleuel Canan Moodie sê intussen hulle verwag Saterdag op Loftus Versfeld in Pretoria ‘n taai stryd teen ʼn gevaarlike Skotse span in die tweede ronde van die Nasieskampioenskap. Suid-Afrika het Engeland verlede naweek in die eerste ronde 45-21 afgeransel, terwyl Skotland Argentinië 47-38 verslaan het. Moodie, wat die 25ste keer vir die Bokke sal uitdraf, sê hulle is gereed vir ʼn verbete stryd in die lug:
# Sokker: Die Bafana Bafana-ster Mbekezeli Mbokazi se agent waarsku klubs hulle sal beter aanbiedings moet maak om hom te koop ná sy goeie vertoning in die Wêreldbekertoernooi. Basia Michaels sê die 20-jarige Mbokazi behoort twee tot vyf keer meer te verdien as die 49-miljoen-rand wat Chicago Fire verlede jaar vir hom betaal het. Die Amerikaanse klub is bereid om die verdediger aan Europese klubs te verkoop. ‘n Belgiese span stel glo weer belang nadat hulle ‘n jaar gelede geweier het om te betaal wat Orlando Pirates wou hê.
Intussen is Frankryk se hoofafrigter, Didier Deschamps, nie bekommerd oor die aanstelling van slegs Argentynse skeidsregters vir vandag se kwarteindstryd teen Marokko in Boston nie. Die beamptes word gelei deur Facundo Tello. Die beheerliggaam is van partydigheid ten gunste van Lionel Messi en Argentinië beskuldig na hulle omstrede oorwinning van 3-2 oor Egipte in die ronde van 16. Deschamps sê hulle teenstander is Marokko en nie die skeidsegter nie.
# En tennis: Suid-Afrika se viermalige Grand Slam-kampioen, Kgothatso Montjane, en haar Britse dubbelspel-maat, Lucy Shuker, is deur na die halfeindronde van die rolstoel-vrouedubbelspel op Wimbledon. Hulle het Ksenia Chasteau van Frankryk en die Nederlander Jiske Griffioen geklop. Montjane het Wimbledon se rolstoel-dubbelspel in 2024 gewen saam met haar Japannese spanmaat, Yui Kamiji, terwyl Shuker aan vyf dubbelspel-eindstryde deelgeneem het. Hulle sal met die eerste-gekeurde Yui Kamiji van Japan en Zhenzhen Zhu van China meeding vir ʼn plek in die eindstryd.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….