Nuus 11:00
BULLETIN 9 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Sewe mense sterf in twee afsonderlike skietvoorvalle op die Kaapse Vlakte
# ‘n Staal-instituut vra ‘n breër benadering tot invoerbeskerming
# En tennis: Kgothatso Montjane van Suid-Afrika is deur na die halfeindronde van die rolstoel-vrouedubbelspel op Wimbledon
# Die Kaapstadse polisie ondersoek twee massa-skietvoorvalle gisteraand in Tafelsig, Mitchells Plain, en in Philippi-Oos waarin sewe mense dood en vyf gewond is. Woordvoerder Andrè Traut sê in die eerste voorval in Tafelsig is vyf mans buite ‘n plaaslike snoepwinkel geskiet en drie slagoffers van 18, 19 en 51 is op die toneel dood verklaar. Hy sê in Philippi-Oos is sewe mense geskiet en vier slagoffers tussen 17 en 20 is dood:
# Die geskorste hoof van Ekurhuleni se regsdienste, Kemi Behari, en nog drie mense is in hegtenis geneem deur die Madlanga-kommissie se aanbevelings-taakspan. Behari is voor die kommissie betrek dat hy na bewering die hoof van Ekurhuleni se Metropolisie, Julius Mkhwanazi, teen tugoptrede beskerm het. Nasionale polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê die verdagtes is gisteraand aangetree tydens optredes in verskillende dele van Johannesburg:
# Die Suid-Afrikaanse Yster- en Staalinstituut sê die land moet nie net fokus op ingevoerde staal nie, maar ook op vervaardigde goedere wat van ingevoerde staal gemaak word en met plaaslike nywerhede meeding. Die sekretaris-generaal, Charles Dednam, sê in ‘n meningsartikel China se groeiende uitvoer van vervaardigde produkte hou ‘n groter bedreiging vir Suid-Afrika se vervaardigingsektor in as slegs die invoer van onbehandelde staal. Hy vra geteikende handelsmaatreëls, sterker streeksontwikkelings-beleid en beter doeane-afdwinging om stroomaf-nywerhede, werkgeleenthede en nywerheidsvermoë te beskerm.
# Suid-Afrika vra Amerika om die ekonomiese, handels- en finansiële sanksies van byna sewe dekades teen Kuba op te hef en sê dis die grootste struikelblok in die land se ontwikkeling-strewe. Kuba sê die skade wat die sanksies veroorsaak, het van Maart verlede jaar tot Februarie vanjaar ʼn rekord 131,2-miljard-rand beloop. Suid-Afrika se ambassadeur by die Verenigde Nasies, Mxolisi Sizo Nkosi, sê hulle is ook bekommerd oor Amerika se olie-verbod teen Kuba:
# Tennis: Suid-Afrika se viermalige Grand Slam-kampioen, Kgothatso Montjane, en haar Britse dubbelspel-maat, Lucy Shuker, is deur na die halfeindronde van die rolstoel-vrouedubbelspel op Wimbledon. Hulle het Ksenia Chasteau van Frankryk en die Nederlander Jiske Griffioen geklop. Montjane het Wimbledon se rolstoel-dubbelspel in 2024 gewen saam met haar Japannese spanmaat, Yui Kamiji, terwyl Shuker aan vyf dubbelspel-eindstryde deelgeneem het. Hulle sal met die eerste-gekeurde Yui Kamiji van Japan en Zhenzhen Zhu van China meeding vir ʼn plek in die eindstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-72-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-873-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-104-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 77-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….