Nuus 14:00
BULLETIN 6 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Hulpverlenings-agentskap waarsku teen waninligting in die repatriasieproses
# Gevegte in ‘n Sri Lankaanse gevangenis eis 25 lewens en beseer meer as 100 mense
# En rugby: Ingrypende veranderings aan die Bokspan vir die kragmeting met Skotland
# Die direkteur van die Adventiste Ontwikkelings- en Verligtingsagentskap, Mhlonipheni Ncube, sê die aantal mense wat deur die repatriasieproses geraak is, is onderskat en waninligting op sosiale media het sake deurmekaar gekrap. Hy sê baie mense het nie akkurate inligting ontvang nie, wat tot verwarring en vertragings gelei het. Ncube het aan die SABC gesê beter koördinering is nodig om toekomstige humanitêre bewegings doeltreffend te bestuur en ondersteuning tydens repatriasiepogings te verseker:
Die polisie waarsku intussen dade van eiereg, intimidasie, diskriminasie, teistering of die onwettige aanhou en ondervraging van mense sal nie geduld word nie. Die March and March-beweging het aangekondig hulle gaan elke Donderdag betoog teen onwettige immigrante, tot die regering bewys hul eise word ernstig opgeneem. Polisiewoordvoerder, Cherelle Ehlers, sê slegs gemagtigde wetstoepassingsbeamptes mag tydens die uitvoering van hul amptelike pligte identiteitsdokumente aanvra en bevestig:
Nuus uit die buiteland:
# Vyf-en-twintig mense, insluitend vier tronkbewaarders, is dood en meer as 100 mense beseer in die ergste geweld in ‘n Sri Lankaanse gevangenis in langer as vyf jaar. Die plaaslike polisie sê die gewondes is gehaas na die Negombo-hospitaal, noord van die hoofstad, Colombo. Die geweld het ontstaan ná gevegte tussen twee dwelmbendes. Daar is byna tien-duisend gevangenes in die tronk. Polisiekommando’s is ontbied maar nie binne die gevangenis ontplooi nie.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het ingrypende veranderinge aangebring aan die span wat Engeland Saterdag 45-21 verneder het. Hy het slegs vyf lede van die opdrafspan behou vir komende naweek se Nasieskampioenskaps-wedstryd teen Skotland op Loftus. Hulle is Jesse Kriel, Damian Willemse, Paul de Villiers, Ruan Nortjé en Pieter-Steph du Toit, wat die kapteinskap behou ná Siya Kolisi se laat onttrekking aan die wedstryd op Ellispark. Handré Pollard en Embrose Papier is die skakelpaar, en Boan Venter, Johan Grobbelaar en Wilco Louw sal die skrum anker.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-22-sent teen die dollar, 18-rand-52-sent teen die euro en 21-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-798-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-150-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-66-sent per vat.
# En ten slotte: Die Nasionale Kunstefees het aangekondig Palesa Kadi is vanaf volgende maand sy nuwe uitvoerende hoof. Die aankondiging is gedoen ná vanjaar se suksesvolle fees in Makhanda in die Oos-Kaap, wat oor elf dae groot gehore gelok het na ‘n propvol program met plaaslike en internasionale vertonings deur opkomende en gevestigde kunstenaars. Kadi sê die provinsie beskik oor ‘n magdom talent en kultuur en die fees dien as ‘n spilpunt waar die wêreld die uiteenlopendheid en unieke karakter van die skeppende bedryf kan ontdek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….