Nuus 09:00
BULLETIN 5 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkminister Nomalungelo Gina stel Suid-Afrika se eerste Nasionale Wetenskapmaand bekend
# Die Vereniging van Staatsamptenare verwerp ‘n voorgestelde nuwe voertuigbelasting
# En motorsport: Kimi Antonelli wen die snelren by die Britse Grand Prix en neem die eerste wegspringplek in
# Die adjunkminister vir Wetenskap, Tegnologie en Innovasie, Nomalungelo Gina, het Suid-Afrika se eerste Nasionale Wetenskapmaand amptelik bekendgestel by die Vaal Universiteit van Tegnologie in Sebokeng. Dit is die begin van ‘n maand lange nasionale program wat Nasionale Wetenskapweek vervang as die land se vlagskip-wetenskapbetrokkenheidsinisiatief. Die adjunkminister sê die program is daarop gemik om wetenskaplike geletterdheid te bevorder, innovasie te inspireer en groter openbare deelname aan wetenskap en tegnologie aan te moedig:
# GIWUSA is bekommerd ná onlangse onthullings rakende die DA en sy senior leierskap. GIWUSA se president, Mametlwe Sebei, sê die inligting betrek Tony Leon, met bewerings van staatskaping en die misbruik van ‘n openbare amp om sakebelange te bevorder wat genoem word. Hy versoek ‘n onmiddellike, onbelemmerde ondersoek na hierdie diep kommerwekkende bewerings om te bepaal tot watter mate staatsbronne misbruik is tot voordeel van individue wat met die DA verbind word:
# Die Vereniging van Staatsamptenare het berigte sterk veroordeel, oor ‘n voorgestelde nuwe voertuigbelasting wat daarop gemik is om die finansiële uitdagings by die Padongelukkefonds aan te spreek. Die woordvoerder van die vakbond, Claude Naicker, sê die finansiële uitdagings waarmee die fonds te kampe het, is grootliks die gevolg van jare se swak bestuur, onvoldoende toesig, finansiële wanbestuur en beleidsmislukkings. Hy sê die fonds kan nie verwag dat landsburgers die finansiële gevolge moet dra van sy onvermoë om openbare fondse doeltreffend te bestuur nie.
# Eskom geniet steeds die voordele van sy operasionele herstelprojekte en handhaaf ‘n bestendige en betroubare kragstelsel ondanks die stygende winter-elektrisiteitsvraag. Die woordvoerder, Daphne Mokwena, sê voortgesette verbeterings in opwekkingsvermoë onder die Opwekkingsherstelplan laat Eskom toe om deurentyd aan die vraag te voldoen terwyl voldoende reserwes en operasionele buigsaamheid gehandhaaf word:
# En motorsport: Die kampioenskapsvoorloper, Kimi Antonelli van Mercedes, het gister die jongste wenner van ‘n Formule Een-snelren geword toe hy Ferrari se Lewis Hamilton by die Britse Grand Prix verbygesteek het. Die 19-jarige Italianer het sy eerste snelren-oorwinning behaal met ‘n uitstekende wedren nadat hy tweede weggespring het en die 41-jarige sewemalige kampioen vir sewe van die 17 rondes gejaag het, voordat hy die voortou geneem het. Hy het nou sy voorsprong in die kampioenskapswedloop oor George Russell in die tweede Mercedes vergroot. Die wêreldkampioen, Lando Norris van McLaren, het derde in die snelren geëindig.
Later die middag het Antonelli ook in voorste wegspringplek vir vanmiddag se wedren gekwalifiseer. Charles Leclerc sal langs hom wegspring met Lewis Hamilton in die ander Ferrari derde, langs die Mercedes van George Russell. Isack Hadjar van Red Bull sal in die vyfde plek wegspring nadat hy sy spanmaat, Max Verstappen, wat sewende sal wegspring, uitgestof het. Hy is tussen die twee McLarens van Lando Norris en Oscar Piastri, wat onderskeidelik sesde en agtste sal wegspring.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….