Nuus 13:00
BULLETIN 3 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Hlabisa wil onbefondsde munisipale begrotings uitroei
# OKOSA stel nuwe bepalings vir selfoonnommers bekend
# En krieket: Die Protea-vroue se afrigter sê sy span het waardevolle lesse geleer uit hulle halfeindstryd-nederlaag
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, het beloof om die jarelange gebruik te beëindig van munisipaliteite wat onbefondsde begrotings goedkeur. Hy het tydens die bekendstelling van die COGTA-AGSA-Tien-maal-Tien-Forum gesê die goedkeuring van begrotings sonder beskikbare befondsing kom neer op misleiding van die publiek en die ondermyning van dienslewering. Hlabisi vra gekoördineerde optrede saam met die Nasionale Tesourie en provinsiale regerings om die gebruik binne twee jaar uit te skakel om finansiële oorsig te versterk.
Die Ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke, het tydens die geleentheid in Pretoria gewaarsku munisipaliteite kan die vordering wat die afgelope paar jaar met bestuur en aanspreeklikheid gemaak is, verloor voor die plaaslike regeringsverkiesing in November. Maluleke sê veranderings in politieke leierskap lei dikwels tot ‘n agteruitgang in munisipale prestasie. Sy het kiesers en politieke partye aangemoedig om bekwame leiers te kies wat verbind is tot verantwoordbaarheid, deursigtigheid en goeie bestuur:
# Die Kaapse Wynland-lughawe en die Universiteit Stellenbosch het ‘n vennootskapsooreenkoms onderteken om vernuwing, navorsing en vaardigheidsontwikkeling te ondersteun vir die lughawe se beplande uitbreiding van agt-miljard-rand. Dit sal tydens die bou-fase na verwagting ongeveer 35-duisend-werksgeleenthede skep en meer as 100-duisend regstreekse en onregstreekse werksgeleenthede in die Wes-Kaap. Deresh Ramjugernath van die universiteit sê die samewerking sal fokus op gebiede soos ingenieurswese, lugvaart, vervoer, logistiek en volhoubaarheid:
# Die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika het nuwe bepalings gepubliseer om eenvormige reëls vir die de-aktivering en hergebruik van ongebruikte selfoonnommers in te stel. Die wysigings het ten doel om verbruikers beter te beskerm deur te verseker hulle word betyds in kennis gestel voor hul nommers gedeaktiveer word, en doeltreffende gebruik van nommerhulpbronne te verseker. Die owerheid sê die nuwe reëls sal meer duidelikheid en eenvormigheid in die telekommunikasiesektor skep. Selfoonoperateurs kry ‘n oorgangstydperk van ses-maande om hul stelsels aan te pas voor die nuwe bepalings in werking tree.
# Krieket: Die Protea-vroue se afrigter, Mandla Mashimbyi, sê waardevolle lesse is geleer uit hulle nederlaag teen Engeland in die halfeindronde van die T20-Wêreldbekertoernooi. Die gasvrou het Suid-Afrika met 40 lopies geklop en speel Sondag in die eindstryd op Lord’s teen die sesmalige kampioen, Australië. Mashimbyi sê daar was talle positiewes en die werk wat hulle nou insit moet verseker dat hulle gereed is wanneer hulle weer aan ‘n Wêreldbekertoernooi deelneem:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 18-rand-56-sent teen die euro en 21-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-596-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-172-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….