Nuus 11:00
BULLETIN 3 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê Afrika het ‘n gekoördineerde reaksie nodig op die migrasieprobleme
# Die EFF beskuldig Mbalula dat hy die party as ‘n misdadige organisasie uitbeeld
# En rugby: Die Junior Bokke klop Georgië en bly onoorwonne in die Junior Wêreldkampioenskap
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika is verbind tot die hantering van migrasie wat menseregte handhaaf en landsburgers se kommer balanseer met buitelanders se waardigheid en veiligheid. Hy en die Demokratiese Republiek die Kongo se president, Félix Tshisekedi, het tydens ʼn bilaterale ontmoeting in Kinshasa kwessies bespreek soos die Ebola-uitbreking en migrasie. Ramaphosa sê Suid-Afrika sal diplomatieke betrokkenheid met ander Afrika-lande versterk om ʼn gekoördineerde benadering tot migrasie te ontwikkel:
# Die EFF het teruggekap nadat die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, die party beskuldig het dat hy deur-tot-deur-veldtogte voer om buitelandse burgers te teiken, en sê die bewerings is vals. Hy het die bewerings gister tydens ʼn mediakonferensie gemaak. Die EFF sê Mbalula kan nie die geskiedkundige werklikheid uitwis dat uitbrekings van vreemdelingehaat en georganiseerde mobilisering teen immigrante Suid-Afrika reeds sedert 2007 teister nie – jare voor die EFF gestig is. Hy beskuldig Mbalula dat hy die EFF deur opgemaakte propaganda wil kriminaliseer.
# ActionSA sê die Konstitusionele Hof se beslissing teen die Wes-Kaapse regering en Stad Kaapstad bevestig die DA se versuim om goed-geleë, bekostigbare behuising te voorsien. Die hof het beslis die verkoop van die Tafelberg-skoolterrein was onwettig en albei regeringsfere het nie hul grondwetlike verpligting nagekom om voldoende behuising te voorsien nie. ActionSA se woordvoerder, Dereleen James, sê die ontwikkeling van goed-geleë behuising is nodig om ruimtelike geregtigheid te herstel:
Nuus uit die buiteland:
# Brittanje se Nasionale Misdaadagentskap waarsku dat seksuele aanranding waar dwelms betrokke is, nie meer geïsoleerde voorvalle is nie, maar toenemend georganiseer word. Die organisasie het ʼn internasionale netwerk ontbloot wat slagoffers bedwelm voor hulle seksueel aangerand en verkrag word. Die agentskap het sedert Oktober verlede jaar 270 mense geïdentifiseer wat verbind word met forums waar beeldmateriaal van gekoördineerde seksuele misbruik aanlyn gedeel word. Minstens agt mense is in die Verenigde Koninkryk aangekeer. Nigel Leary van die agentskap sê aanlyn platforms maak regstreekse oortredings moontlik.
# Rugby: Die verdedigende kampioen, Suid-Afrika, is steeds op die wenpad op die Junior Wêreldkampioenskap na hulle die gasheer, Georgië, 33-5 verslaan het in Tbilisi. Siphosethu Mnebelele het twee van die Junior Springbokke se vyf drieë gedruk. Argentinië, Australië, Engeland, Frankryk, Nieu-Seeland en Wallis het ook oorwinnings behaal in die tweede ronde van groepswedstryde. Die Bokke se afrigter, Kevin Foote, het sy span se selfbeheersing en volwassenheid teen die fisiese Georgië geloof:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-19-sent teen die dollar, 18-rand-54-sent teen die euro en 21-rand-64-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-614-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-176-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 72-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….