Nuus 12:00
BULLETIN 2 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Matlala word gedagvaar om voor die Madlanga-kommissie te verskyn
# Sestien mense sterf in ‘n busongeluk naby Touwsrivier in die Wes-Kaap
# En sokker: ‘n Heldeontvangs vir Bafana Bafana ná ‘n geskiedkundige Wêreldbeker-veldtog
# Die misdaadfiguur, Vusimuzi ‘Cat’ Matlala, is gedagvaar om volgende week voor die Madlanga-kommissie te verskyn. Sy getuienis sal na verwagting verder lig werp op bewerings van korrupsie, politieke inmenging en die beweerde invloed van georganiseerde misdaad binne wetstoepassing- en regeringstrukture. Matlala is in getuienis betrek by korrupsie deur verskeie senior polisie-offisiere. Hy het onlangs ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan rondom sy Medicare24-polisietender van 228-miljoen-rand.
# Die Padvragvereniging is bekommerd oor die March and March-beweging se planne om tot die munisipale verkiesing elke Donderdag teen onwettige immigrante te betoog. Die organisasie eis dat onwettige buitelanders Suid-Afrika verlaat en dat die regering beter grensbeheer toepas. Die vereniging se uitvoerende hoof, Gavin Kelly, sê die land hoef nie afstootlik te word vir alle toekomstige groei- en beleggingsvooruitsigte nie:
# Suid-Afrika se nuwe voertuigmark ondervind ‘n reuse-oplewing, met verlede maand se verkope wat op ‘n jaargrondslag met 15,3-persent gestyg het tot 54-duisend-482 eenhede, die sterkste Junie-prestasie sedert 2007. Data van die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers toon die mark het in die eerste helfte van vanjaar 315-duisend-303 eenhede bereik, ondanks onlangse ekonomiese uitdagings soos brandstofprysverhogings en ‘n terugkoopkoers-verhoging van 25-basispunte tot sewe-persent in Mei. Dit plaas die plaaslike motorsektor stewig op koers om die jaarlikse verkope-mylpaal van 600-duisend teen die einde van die jaar te oorskry.
# Sestien mense is dood in ‘n busongeluk wat vanoggend op die N1 naby Touwsrivier in die Wes-Kaap plaasgevind het, en twee mense is ernstig beseer. Die Departement van Beweeglikheid se woordvoerder, Maxine Bezuidenhout, sê die bus was die enigste voertuig betrokke en het vermoedelik omgeslaan. Sy sê daar was 73 passasiers op die bus, almal Suid-Afrikaners:
# Sokker: Die Bafana Bafana-groep wat geskiedenis gemaak het op die Wêreldbekertoernooi, het vanoggend ‘n helde-ontvangs gekry met hul aankoms op die OR Tambo-internasionale lughawe in Gauteng. Bafana het wel Sondag in die ronde van 32 1-0 teen Kanada verloor, maar dit was die eerste keer in Suid-Afrika se geskiedenis dat die nasionale span ‘n Wêreldbeker-uitklopfase bereik. Afrigter Hugo Broos sê die span het wonderlike ondersteuning van Suid-Afrikaners ontvang:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-271-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-74-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….