Nuus 12:00
BULLETIN 1 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Hof beslis Matlala se pleitooreenkoms is te toegeeflik
# Een persoon sterf toe spaza-winkels in buitelandse besit in Alexandra geplunder word
# En Oekraïnse hommeltuigaanvalle op Russiese olie-infrastruktuur veroorsaak wydverspreide brandstoftekorte
# Die Handelsmisdaadhof in Pretoria het die sakeman Vusimusi “Cat” Matlala se pleitooreenkoms van agt-jaar tronkstraf vir bedrog, korrupsie en geldwassery verwerp. Dit handel oor die Medicare24-tender van 228-miljoen-rand. Landdros Ignatius du Preez beskryf Matlala as die baasbrein van die operasie en wonder of sy samewerking opregte berou is of ‘n poging om ‘n ligter vonnis te verseker. Hy het tronkstraf van 12-jaar voorgestel, onderhewig aan beraadslagings tussen die staat en verdediging:
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het brigadier Rachel Matjeng intussen afgedank oor haar verhouding met Matlala.. Sy is een van 12 offisiere wat verbind word met die Medicare24-tenderskandaal. Matjeng is ná ‘n interne tugproses skuldig bevind aan talle aanklagte van ernstige wangedrag Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê korrupsie, misdadigheid en enige vorm van samewerking met misdadigers hoort nie in die Polisiediens nie:
# Een persoon is dood in gewelddadige betogings teen onwettige immigrante in Alexandra in die noorde van Johannesburg. Die polisie sê inwoners het spaza-winkels in buitelandse besit geplunder toe skote afgevuur en die slagoffer noodlottig gewond is. Die persoon is nog nie geïdentifiseer nie en niemand is nog in hegtenis geneem nie. Geweld het gisteraand in Alexandra toegeneem ná gister se landwye betogings. Die polisie ondersoek die omstandighede rondom die moord.
Nuus uit die buiteland:
# Volgehoue hommeltuigaanvalle op Russiese olieraffinaderye het brandstofproduksie in die land erg ontwrig en wydverspreide brandstoftekorte by vulstasies in die hoofstad, Moskou, veroorsaak. Die krisis wat laat verlede maand ‘n hoogtepunt bereik het, het Russiese olieproduksie laat daal tot vlakke heelwat laer as die nasionale aanvraag. Die uitwerking is landwyd sigbaar en strek van groot stedelike gebiede soos Moskou tot afgeleë grensstreke en Russies-beheerde gebiede. Reuters berig onafhanklike vulstasies in Rusland het begin om brandstof die eerste keer te verkoop teen meer as 20-rand-81-sent per liter.
# Sokker: Julian Nagelsman wil aanbly as Duitsland se afrigter al is die viermalige kampioen tydens die ronde van 32 van die Wêreldbekertoernooi uitgeskakel. Hul onverwagte nederlaag teen Paraguay is die eerste keer dat Duitsland ooit ‘n strafdoelstryd in ‘n Wêreldbekertoernooi verloor het. Nagelsman se kontrak strek tot 2028 se Europese Kampioenskap, maar hy verkeer onder druk terwyl die voormalige afrigter van Liverpool, Jurgen Klopp, as ‘n moontlike plaasvervanger beskou word. Nagelsman sê hy het baie jong spelers van gehalte in die groep vir die pad vorentoe.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-491-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-977-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 72-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….