Nuus 13:00
BULLETIN 25 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Matlala stem in tot ‘n pleitooreenkoms met die staat rakende die Medicare24-kontrak
# Israel vra ‘n ondersoek na anti-semitisme en vooroordele in die Verenigde Nasies
# En sokker: Die regering wens Bafana Bafana geluk met die geskiedkundige oorwinning in die Wêreldbekertoernooi
# Die omstrede sakeman Vusimuzi Matlala het in die Handelsmisdaadhof in Pretoria ingestem tot ‘n pleit- en vonnisooreenkoms met die Nasionale Vervolgingsgesag rakende die polisie se Medicare24-tenderskandaal. Hy het aangedui hy sal skuldig pleit aan bedrog, korrupsie en geldwassery wat verband hou met die multi-miljoenrandse kontrak wat aan sy onderneming toegeken is. Die hof oorweeg die ooreenkoms, wat met die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie bereik is. Matlala se saak is gister geskei van dié van sy medebeskuldigdes, dus kan die saak onafhanklik voortgaan.
# President Cyril Ramaphosa het die voormalige begrotingshoof van die Nasionale Tesourie, Michael Sachs, as sy nuwe ekonomiese raadgewer aangestel. Hy vervang Trudi Makhaya. Die aanstelling is gedoen terwyl die regering sy pogings verskerp om ekonomiese groei te bevorder en hervorming te verdiep. Sachs het voorheen die Tesourie se begrotingskantoor gelei en ‘n sleutelrol gespeel in die vorming van fiskale beleid. Sy terugkeer word gesien as ‘n versterking van ekonomiese beleidskundigheid in die Presidensie te midde van voortdurende groei- en werkloosheidsuitdagings.
# City Power in Johannesburg het die krag na die privaat skool Curro in Noordwyk afgeskakel na jare van nie-betaling. Dis deel van ‘n algemene ingryping teen groot oortreders wat saam 38,1-miljoen-rand skuld. Woordvoerder Isaac Mangena sê die afskakeling volg weens ‘n volgehoue onbetaalde elektrisiteitrekening wat sedert 2023 opgebou het. Hy sê die optrede is deel van groter stappe om betaling te verseker:
Nuus uit die buiteland:
# Israel se ambassadeur by die Verenigde Nasies, Danny Danon, het ‘n ondersoek gevra na wat hy vooroordeel teen Israel noem. ‘n Kommissie het bevind Israelse owerhede en veiligheidsmagte het doelbewus Palestynse kinders in die Gazastrook en die Wesoewer geteiken, wat gelei het tot volksmoord, misdade teen die mensdom en oorlogsmisdade. Danon sê die ondersoek moet kyk na hoe anti-semitisme as aanvaarbaar beskou, haatspraak verskoon en vals bewerings versterk word:
# Sokker: Die regering het Bafana Bafana gelukgewens nadat hy die eerste keer in die geskiedenis deurgedring het na die uitklopronde van ‘n Wêreldbekertoernooi. Suid-Afrika het Suid-Korea 1-0 geklop om tweede te eindig in groep A na die mede-gasheer, Mexiko, en vir die laaste 32 te kwalifiseer. Die adjunk-regeringswoodvoerder, William Baloyi, sê die oorwinning wys Bafana Bafana se vasberadenheid, dissipline en veggees op die wêreldverhoog:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-631-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-990-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 72-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….