Nuus 16:00
BULLETIN 24 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Waarnemende kommissaris Dimpane bepleit samewerking tussen die polisie en privaat sekerheid voor Dinsdag se betogings
# Drie burgers van Lesotho is in hegtenis geneem vir die skietvoorval in Cleveland waarin 13 mense dood is
# En rugby: Rassie Erasmus is vol lof vir ‘n uiters mededingende Engelse span
# Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Puleng Dimpane, het die polisie en die Reguleringsowerheid vir die Privaat Veiligheidsbedryf versoek om saam te werk om openbare veiligheid te verseker voor Dinsdag se beplande migrasie-betogings. Sy sê alle belanghebbendes deel ‘n verantwoordelikheid om wet en orde te handhaaf en grondwetlike regte te beskerm. Dimpane prys die privaat veiligheidsbedryf se bydrae, maar is bekommerd oor die voortdurende nie-nakoming van die Wet op Vuurwapenbeheer:
Die Inkatha-Vryheidsparty vra Afrika-regerings intussen om hul samewerking te gee met die bespoediging van die bevestiging en repatriasie van buitelandse burgers wat huis toe wil gaan. Die party vra kalmte voor die betogings en beklemtoon openbare orde moet gehandhaaf word. Die IVP sê ongedokumenteerde migrante moet wettig verwerk word, terwyl diegene met strafregtelike aanklagte teen hulle in Suid-Afrika moet bly vir behoorlike regstappe. Die party vra ‘n gebalanseerde benadering wat soewereiniteit, wetstoepassing en grondwetlike regte handhaaf.
# Drie burgers van Lesotho is aangekeer in verband met die massaskietery in die Jumpers-informele nedersetting in Cleveland, Johannesburg, vroeër die maand waarin 13 mense dood en 14 beseer is. Hulle is in die KwaMaiMai-informele nedersetting in hegtenis geneem ná ‘n intensiewe ondersoek waarby verskeie spesialis-wetstoepassingseenhede betrokke was. Polisiewoordvoerder Dimakatso Nevhuhulwi sê die drie mans sal na verwagting môre in die hof verskyn op aanklag van moord en poging tot moord:
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê klimaatgeregtigheid, voedselsekerheid, gelyke gesondheid, inklusiewe groei en inligtingsintegriteit moet die belangrike pilare van nasionale en globale sekerheid wees. Sy het die 16de vergadering van BRICS se nasionale sekerheids-raadgewers en verteenwoordigers oor nasionale sekerheid in Indië toegespreek. Ntshavheni het amptenare gemaan om seker te maak wêreldwye sekerheids-reaksies beskerm die kwesbaarste gemeenskappe. Sy sê projekte moet Afrika se voorkeure ondersteun, die vasteland se Vryhandelsgebied versterk en Agenda 2063 se visie van ‘n geïntegreerde, voorspoedige en vreedsame vasteland bevorder.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hulle het die grootste respek vir Engeland voor volgende Saterdag se Nasieskampioenskaps-openingswedstryd op Ellispark. Engeland se afrigter, Steve Borthwick, het vyf nuwe spelers gekies, insluitend die Suid-Afrikaans-gebore senter Benhard Janse van Rensburg. Erasmus verwerp opmerkings dat Engeland se vertoning in die Sesnasies hul moraal kan beïnvloed en sê Borthwick het ‘n sterk en mededingende groep gekies wat moeilik geklop gaan word:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-61-sent teen die dollar, 18-rand-83-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-720-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-38-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 74-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….