Nuus 15:00
BULLETIN 24 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Drie burgers van Lesotho is in hegtenis geneem vir die skietvoorval in Cleveland waarin 13 mense dood is
# ‘n Skeepsvaartkenner sê mark-onsekerheid hou olietenkskepe aflandig
# En sokker: Frankryk gaan sy laaste Wêreldbeker-groepwedstryd sonder sy afrigter speel ná sy ma se dood
# Drie burgers van Lesotho is aangekeer in verband met die massaskietery in die Jumpers-informele nedersetting in Cleveland, Johannesburg, vroeër die maand waarin 13 mense dood en 14 beseer is. Hulle is in die KwaMaiMai-informele nedersetting in hegtenis geneem ná ‘n intensiewe ondersoek waarby verskeie spesialis-wetstoepassingseenhede betrokke was. Polisiewoordvoerder Dimakatso Nevhuhulwi sê die drie mans sal na verwagting môre in die hof verskyn op aanklag van moord en poging tot moord:
# ‘n Skeepsvaartkenner, John Ingpen, sê wêreldwye mark-onsekerheid hou olietenkskepe langer op see, aangesien operateurs reageer op wisselende oliepryse en die veranderende vraag. Hy sê verskeie vaartuie wag tans naby Kaapstad, met sommige wat stadig vaar of dryf terwyl hulle op aanwysings wag. Ingpen sê bestemmings kan tydens ‘n vaart verskeie kere verander namate handelaars op marktoestande reageer. Hy voeg by Kaapstad bly ‘n belangrike internasionale verskepingspunt waar olietenkskepe dikwels aflandig gehou word.
# Die DA sê Johannesburg ervaar ‘n brandstofkrisis wat sekere munisipale voertuie raak en dienslewering bedreig. Woordvoerder Belinda Kayser‑Echeozonjoku sê departemente en instellings, insluitend Johannesburg Water en Pikitup, word geraak nadat hervullingsdienste opgeskort is. Sy sê ‘n metro wat nie brandstof kan bekostig nie, kan ook nie ‘n bykomende finansiële verpligting van tien-miljard-rand vir ‘n salaris-ooreenkoms bekostig nie, aangesien dit verdere druk op reeds gespanne finansies sal plaas:
# Die Vrystaatse LUR vir Landbou, Landelike Ontwikkeling en Omgewingsake, Elsabé Rockman, sê die provinsie het die mylpaal van ‘n miljoen diere verbygesteek wat teen bek-en-klouseer ingeënt is. Dis deel van Suid-Afrika se breër poging om uitbrekings te beheer en die veebedryf te beskerm deur die nasionale verspreiding van entstof teen die siekte. Rockman het aan die SABC gesê voortgesette inentings en streng biosekerheids-maatreëls is van kritieke belang om verdere verspreiding te verhoed:
# Sokker: Frankryk speel Vrydag sy laaste Wêreldbeker-groepswedstryd teen Noorweë sonder sy afrigter, Didier Deschamps, wat teruggekeer het huis toe na sy ma se dood. Sy hulpafrigter, Guy Stephan, sal in beheer wees totdat hy terugkeer. Die tweemalige kampioen het reeds vir die ronde van 32 gekwalifiseer nadat hy Senegal en Irak geklop het, en sal boaan Groep I eindig as hulle die Noorweërs verslaan. Deschamps sal Frankryk aan die einde van die toernooi verlaat na 14 jaar. Hy het hulle in 2018 na die titel gelei.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-63-sent teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 21-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-291-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-42-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….