Nuus 16:00
BULLETIN 23 Maart 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Appèlhof beslis ten gunste van die Lungu-familie in ‘n begrafnisgeskil
# Oscar Mabuyane verloor sy lastersaak teen Julius Malema
# En sokker: Manchester United bekom die meeste van die grond om sy stadion met 100-duisend sitplekke te bou
# Die Appèlhof in Bloemfontein het die Hooggeregshof in Pretoria se uitspraak omgekeer wat die Zambiese regering toestemming gegee het om die oorskot van oudpresident Edgar Lungu te repatrieer vir ‘n staatsbegrafnis. Die hof het ten gunste van Lungu se familie beslis dat hy in Suid‑Afrika begrawe mag word, wat ooreenstem met sy wense. Die hof sê die familie se waardigheid en begrafnisregte weeg swaarder as aansprake van die Zambiese regering, en het bevind die Hooggeregshof het fouteer deur internasionale samewerkingswette toe te pas op ‘n privaat saak.
# Die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, het sy lastersaak teen die EFF-leier, Julius Malema, verloor in die Hooggeregshof in KuGompo City, wat gelas het hy moet die regskoste betaal. Die saak het gevolg op Malema se bewerings dat Mabuyane onregmatig ‘n meestersgraad van die Universiteit van Fort Hare verwerf het. Regter Jannie Eksteen het beslis hoewel mense die reg het op beskerming teen onregmatige aanvalle, geld daardie beskerming nie vir regmatige kritiek waar die verweer van waarheid en openbare belang bewys is nie.
# Die polisie sê die inhegtenisneming van meer as 15-duisend verdagtes binne ‘n week as deel van die landwye Operasie Shanela beklemtoon hul vasberadenheid om misdaadnetwerke te ontwrig en gemeenskappe te beskerm. ‘n Woordvoerder, Vincent Mukhathi, sê polisie het twee-duisend-521 onwettige buitelanders in talle provinsies in hegtenis geneem vir die oortreding van die Immigrasiewet, in ooreenstemming met die regering se optrede teen onwettige migrasie:
# Action Society kritiseer die Departement van Justisie se versuim om te reageer op ‘n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, waarin besonderhede versoek word oor die Nasionale Register vir Seksoortreders. Dit volg ondanks ‘n verlengde sperdatum wat op 20 Junie verstryk het. Juanita du Preez van Action Society sê meer as 15 -duisend burgers het hul veldtog ondersteun en eis deursigtigheid en meer beskerming vir kinders:
# Sokker: Die Engelse reus Manchester United het ‘n reuse-stuk grond van 10-hektaar bekom vir die oprigting van ‘n hipermoderne stadion met sitplek vir 100-duisend toeskouers. Dis so groot soos 14 standaard-sokkervelde. Die klub het die grond gekoop van die nywerheidsmaatskappy Indurent, wat behoort aan die eiendomsgroep Blackstone. Die geskiedkundige projek gaan na raming 43,5-miljard-rand kos en Brittanje se grootse sportarena wees. Die wêreldklas-stadion sal die middelpunt wees van ‘n groter herskepte sone, met voltooiing beplan vir die 2030/31-seisoen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 21-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-337-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-116-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 76-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….