Nuus 07:00
BULLETIN 19 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile vra dat Suid-Afrikaners gepeupelreg verwerp
# Zimbabwe se Parlement verleng die presidensiële termyn van vyf tot sewe jaar
# En rugby: Rassie sê die Stormers het die Bulle gewys hoe om Leinster te klop
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die regering stel tans ‘n omvattende benadering in om migrante te bestuur, wat gemik is op versterkte grens-sekuriteit, toepassing van immigrasiewette, aanspreek van korrupsie en om skuiwergate toe te stop. Dis deel van ʼn groter poging om onwettige immigrasie in Suid-Afrika te hanteer. Mashatile het gister vrae in die Nasionale Raad van Provinsies beantwoord. Hy het landsburgers gemaan om hul kommer op wettige maniere binne die grense van die Grondwet te lug, en gepeupelreg te verwerp:
Mashatile sê ook die groepering vir Justisie, Misdaadvoorkoming en Sekuriteit stel regstellende maatreëls in om korrupsie in die Suid-Afrikaanse Polisiediens op te spoor en te voorkom. Dit volg na verdoemende onthullings by die Madlanga-kommissie wat die afgelope maande tot verskeie inhegtenisnemings en skorsings gelei het. Mashatile het gister gesê toegewyde spanne gaan voort om polisiebeamptes te ondersoek wat by die kommissie betrek is en ʼn spesiale taakspan hanteer tugsake:
# Die MK-party het ‘n beroep op sy lede en ondersteuners gedoen om gedissiplineerd en wettig op te tree wanneer hulle deelneem aan die beplande optog teen onwettige migrasie op 30 Junie. Die party sê hy ondersteun die betoging, wat fokus op oproepe vir die afdwing van immigrasiewette en die verwydering van onwettige immigrante uit Suid-Afrika. Die MK-sekretaris-generaal, Sibonelo Nomvalo waarsku teen enige geweld, intimidasie, plundery of verwoesting van eiendom:
# Ekurhuleni se burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Jongizizwe Dlabathi, sê hulle gaan voort om met politieke partye te beraadslaag om ʼn weg te vind om die voorgestelde 2026/2027-begroting te aanvaar. Dit is gister die vierde keer verwerp nadat 95 raadslede daarvoor en 105 daarteen gestem het. Die ANC-geleide koalisie het tot die einde van die maand tyd om ondersteuning vir ʼn wettige begroting te kry, anders kan die provinsie ingryp. Dlabathi vra partye om met volwassenheid op te tree.
# Zimbabwe se Parlement het ʼn omstrede wysigingswetsontwerp aanvaar wat die presidensiële termyn van vyf tot sewe jaar verleng. Die voorstel is deur 216 wetgewers aanvaar en 42 was daarteen. Dit gaan nou na die Senaat. Indien dit bekragtig en deur president Emmerson Mnangagwa onderteken word, verleng dit sy termyn met twee jaar. Die wetsontwerp stel ook voor dat presidente deur wetgewers gekies word en nie deur regstreekse gewilde stem nie. Die 83-jarige president het in 2017 aan bewind gekom nadat wyle Robert Mugabe afgesit is.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê die Stormers het die Bulle gewys hoe om Leinster tuis te klop toe hulle die Verenigde Rugbykampioenskaps-halfeindstryd teen die Ierse span verloor het. Die Bulle en Leinster speel vanaand in die eindstryd in Dublin. Erasmus sê die Stormers het Suid-Afrika se naam hoog gehou al het hulle verloor, want swak dissipline en die afwesigheid van verskeie beseerde ster-spelers het hulle belemmer. Hy verwag die gasheer gaan ‘n taai uitdaging wees, maar glo die Bulle kan een stap beter vaar as die Stormers.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-888-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-184-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….