Nuus 18:00
BULLETIN 17 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum is optimisties oor die Departement van Landbou met Willie Aucamp aan die hoof
# Forum for South Africa sê die onderwysstelsel lewer steeds gegradueerdes sonder vaardighede
# En, Sokker: KI-navorsers stel ‘n lys op van die aantreklikste 2026-Wêreldbekerspelers gebasseer op gesigseienskappe
# AfriForum is optimisties oor die landbousektor ná die DA se voorgestelde kabinetskommeling in die regering van nasionale eenheid, wat Willie Aucamp as die voorgestelde nuwe minister van Landbou insluit. Die organisasie glo die moontlike verandering is ‘n positiewe stap om die bek-en-klouseer-krisis, wat swak bestuur is, aan te pak. Lambert de Klerk van AfriForum sê indien Aucamp aangestel word, sal hy die geleentheid kry om vorige tekortkominge reg te stel en siektebeheer te verbeter:
# Die geskorste KwaZulu-Natal Valke-brigadier Campbell Nyuswa het aan die Madlanga-kommissie gesê hy twyfel of ‘n kluis met gekonfiskeerde dwelms oopgebreek is met ‘n boor. Nyuswa sê hy vermoed die toneel is moontlik tydens die diefstal herrangskik. In reaksie op die voorsitter van die kommissie, Mbuyiseli Madlanga, se vraag, het Nyuswa bevraagteken waarom ondersoekbeamptes nie kundige ontleding verkry het om te bevestig hoe die beskadiging plaasgevind het nie:
# Forum for South Africa sê die Suid-Afrikaanse stelsel lewer steeds gegradueerdes sonder vaardighede, met kwalifikasies sonder geleenthede en hoop sonder rigting. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê die huidige onderwysstelsel is steeds nie in ooreenstemming met mense se werklikhede nie. Hy voeg by Suid-Afrika moet terugkeer na ‘n stelsel wat praktiese vaardighede waardeer:
# Sokker: Meer as 54-miljoen kykers in Kanada, die VSA en Mexiko het tot ingeskakel vir die gasheerlande se Wêreldbeker-groepwedstryde. Amerika se openingswedstryd teen Paraguay het 27,5-miljoen kykers gelok, die meeste kykers ooit vir ‘n sokkerwedstryd wat in die land uitgesaai is. Die president van die wêreldbeheerliggaam, FIFA, Gianni Infantino, beskryf die syfers as geskiedkundig, wat aandui hoe die sport die wêreld werklik verenig. Hy beskryf die atmosfeer, energie en passie in die drie lande as baie spesiaal.
# In verdere sokker nuus: Wêreldbekersokkerspelers trek nou aandag vir ‘n heel ander rede. Kunsmatige-intelligensie-navorsers het op grond van die sogenaamde goue gesigsverhouding ’n lys saamgestel van die aantreklikste spelers. Hoe nader ‘n persoon se gelaatstrekke aan die ‘Goue Verhouding’ van 1.618-tot-een is, hoe meer esteties gebalanseerd is hy of sy. Die maatskappy wat die ontleding gedoen het, beklemtoon egter dit stem nie noodwendig ooreen met die aantreklikheid soos die publiek dit waarneem nie. Die Argentyn Rodrigo de Paul is eerste op die ranglys. Portugal se Cristiano Ronaldo, een van die wêreld se mees beeldbewuste atlete, is slegs 45ste op die ranglys.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 21-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-166-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-346-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 80-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….