Nuus 16:00
BULLETIN 15 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Meer as een-duisend Malawiërs wat by die Durbanse repatriasie-sentrum verwerk is, was nie gedokumenteer nie
# Nege dood in ‘n Russiese aanval op Oekraïne en ‘n geskiedkundige katedraal in Kiëf word in vlamme gelaat
# En, Rugby: Die Cheetahs gaan glo vir Henry Immelman en Simon Miller kontrakteer
# Die Departement van Binnelandse Sake sê die eerste een-duisend-140 Malawiese burgers wat by ‘n repatriasie-sentrum in Durban verwerk is, was onwettig in Suid-Afrika. Verskeie lande het altesaam twee-duisend-745 burgers na hulle lande teruggeneem sedert president Cyril Ramaphosa se toespraak oor migrasie en onwettige immigrasie vroeër die maand. Adjunkminister Njabulo Nzuza sê diegene wat wettige status gehad het, is aangeraai om terug te keer na die gemeenskappe waar hulle gewoon het:
# Legal Aid South Africa gee die versekering sy dienste gaan Woensdag voort wanneer die vakbond SALAWU met arbeidsoptrede begin. Woordvoerder Pateka Quwe sê hulle respekteer werknemers se grondwetlike reg om deel te neem aan die wettige, beskermde optrede soos voorsien word in die Grondwet en die Wet op Arbeidsbetrekkinge:
# Die Padverkeersbestuurskorporasie sê Suid-Afrika se voertuiglisensiestelsel kan na ‘n volledige digitale model oorskakel, wat die behoefte aan voorruitlisensieskyfies uitskakel. Die woordvoerder Simon Zwane sê die stelsel sal verkeersbeamptes toelaat om elektronies toegang tot voertuig- en voldoeningsdata te verkry deur middel van nommerplaatherkenningstoestelle. Hy sê die stap is daarop gemik om bedrog met vervalste skyfies te bekamp en afdwinging te moderniseer. Hy sê geen implementeringsdatum is aangekondig nie, maar daar word verwag die stelsel sal met bestaande elektroniese verkeersboetetegnologie geïntegreer word.
# Nege mense is dood en verskeie ander beseer in ‘n vlaag Russiese aanvalle op Oekraïne, met ‘n belangrike godsdienstige landmerk in die hoofstad Kiëf wat in vlamme opgegaan het. Die 11de-eeuse Dormition-katedraal is erg beskadig in wat die Oekraïense premier, Yulia Svyrydenko, beskryf het as ‘n wrede aanval op die mense en erfenis van die land. Die Dormition-katedraal is deel van ‘n argitektoniese groep kloostergeboue wat as ‘n Unesco-wêrelderfenisgebied verklaar is.
# Rugby: Die Cheetahs staan glo op die punt om kontrakte te onderteken met die veelsydige agterspeler Henry Immelman en die veelsydige voorspeler Simon Miller. Die 31-jarige Immelman het vyf jaar vir die Franse span Montpellier gespeel voor hy na Edinburgh in Skotland is. Hy het in 2023 by die Bulle aangesluit, maar sedertdien min speelkans gekry. Die 25-jarige Miller speel tans vir Shizuoka Blue Revs in Japan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-20-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-213-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-340-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 82-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….