Nuus 15:00
BULLETIN 15 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vusi ‘Cat’ Matlala se poging-tot-moord-saak weer uitgestel
# Hernubare energieprodusente worstel met toenemende beperkingskrisis
# En, Britse gewapende magte lê beslag op ‘n Russiese skadu-olietenkskip in die Engelse Kanaal
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het die saak van die sakeman Vusimusi “Cat” Matlala en vier medebeskuldigdes tot volgende Woensdag uitgestel wanneer ‘n nuwe regsverteenwoordiger van beskuldigde nommer een, Musa Kekana, in die hof sal wees. Die groep staan tereg op 25 aanklagte, insluitend elf aanklagte van poging-tot-moord wat verband hou met drie skietvoorvalle tussen 2022 en 2024. Die staat beweer die beskuldigdes het die skietery bewerkstellig en vervalsde fakture gebruik om fondse te verberg. Matlala word ook van ‘n beweerde sluipmoordpoging op sy voormalige vriendin, Tebogo Thobejane, beskuldig.
# Die Wits-debatvereniging vra realistiese en volhoubare oplossings vir Suid-Afrika se maatskaplik-ekonomiese uitdagings terwyl die land môre Jeugdag herdenk. Die voorsitter, Thandolwethu France, het aan SABC News gesê baie jongmense het vertroue verloor omdat regeringsingrypings dikwels nie die oorsake van werkloosheid en ekonomiese uitsluiting aanspreek nie. France voer aan korttermyn-werksprogramme is onvoldoende en bepleit meer belegging in volhoubare ekonomiese geleenthede:
# Hernubare energieprodusente in Suid-Afrika worstel met toenemende finansiële druk namate Eskom wind- en sonkragprojekte opdrag gee om kragopwekking te verminder. ‘n Energie-ontleder, Chris Yelland sê doelbewuste verminderingsvlakke het in 2026 skerp toegeneem, met sommige projekte wat inkomsteverliese van tot nege-persent aangeteken het. Onafhanklike kragprodusente beweer vertragings in terugbetalings het ‘n kontantvloeikrisis veroorsaak, met uitstaande betalings wat bykans een-miljard-rand beloop. Kommer is ook geopper oor die deursigtigheid van die beperkingsproses, met oproepe vir strenger toesig.
# Britse gewapende magte en wetstoepassers het beslag gelê op ‘n Russiese skadu-olietekenkskip wat deur die Engelse Kanaal gevaar het. Die Smyrtos het 100-duisend ton Russiese ru-olie vervoer. Dis die eerste keer dat ‘n vaartuig van Rusland se skadu-vloot in Britse gebiedswater onderskep is. Eerste minister Keir Starmer sê die geslaagde optrede is nog ‘n terugslag vir Rusland, en herinner diegene wat president Vladimir Putin se oorlog in Oekraïne aanvuur hulle kan nie wegkruip nie. Brittanje het sanksies geplaas op meer as 500 vaartuie.
# Krieket: Die veelsydige Protea-speler Nadine de Klerk glo hulle kan herstel na hulle loesing teen Australië in hulle openingswedstryd van die T20-Wêreldbekertoernooi. Suid-Afrika het met 65 lopies verloor, wat hulle kans op ‘n plek in die uitspeelrondes kan benadeel. De Klerk sê hulle in die vorige paar toernooie gewys hulle kan die eindstryd haal ondanks ‘n swak begin. Die Proteas speel Sondag in Birmingham teen Pakistan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-19-sent teen die dollar, 18-rand-78-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-193-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-340-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 82-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….