Nuus 12:00
BULLETIN 15 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê Suid-Afrika moet ‘n plek word waar die jeug deel is van ‘n inklusiewe ekonomie
# Die Anglikaanse Kerk veroordeel dreigemente en vyandighede teenoor migrante in Suid-Afrika
# En die seun van Noorweë se kroonprinses is tot vier jaar tronkstraf gevonnis
# President Cyril Ramaphosa sê jong Suid-Afrikaners ondervind ‘n ander soort uitdaging as die jeug van 1976 en vind hulle plek in ‘n ekonomie wat te lank sy deure vir hulle toegehou het. Môre is die 50ste herdenking van die jeugopstand van 1976. Ramaphosa skryf in sy weeklikse nuusbrief ekonomiese groei is noodsaaklik om jeug-werkloosheid op ‘n betekenisvolle manier aan te pak. Hy sê een van die suksesvolste programme was die presidensiële werkskepping-stimulus wat meer as 2,5-miljoen werksgeleenthede geskep het.
# Die Anglikaanse Kerk van Suider-Afrika is bekommerd oor die geweld teen buitelanders wat in Suid-Afrika woon. Betogings teen buitelanders neem toe. Die kerk se vikaris-generaal, eerwaarde Stephen Diseko, sê hulle glo immigrasiewette moet afgedwing word, maar deur die betrokke owerhede en nie deur oproeriges nie. Hy vra diegene wat vyandigheid teenoor buitelanders aanvuur om dit te staak:
# Die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en Welstand het ‘n reeks maatreëls ingestel om te verseker pasiënte van die Sentraal-Karoo ontvang steeds spesialis-sorg al het erge weerskade sleutel-vervoerroetes ontwrig. Hoofroetes tussen die Sentraal-Karoo en die Tuinroete is gesluit, insluitend Meiringspoort en die Uniondale-pas. LUR Mireille Wenger sê skade van sowat nege-miljard-rand is aan infrastruktuur aangerig:
Nuus uit die buiteland:
# Die Distrikshof in Oslo het die seun van Noorweë se kroonprinses, Mette‑Marit, tot vier jaar tronkstraf gevonnis. Die 29‑jarige Marius Borg Høiby is skuldig bevind aan verskeie misdade, insluitend twee aanklagte van verkragting en een van gesinsgeweld. Hy het twee vroue verkrag, een in 2018 op die kroonprins se landgoed in Skaugum en nog een in 2024 in Oslo. Hy is ook skuldig bevind aan die mishandeling van sy voormalige vriendin, die Noorse beïnvloeder Nora Haukland, maar vrygespreek in twee ander verkragtingsake.
# Sokker: Die viermalige kampioen, Duitsland, het sy Wêreldbekerveldtog afgeskop deur die nuweling Curacao in Houston 7-1 af te ransel. Ses spelers het doele aangeteken, met Kai Havertz wat twee ingeskop het. Manchester United se vleuel, Adad Diallo, het Ivoorkus in beseringstyd gehelp om Ecuador in Philadelphia 1-0 te klop. Liverpool se voorspeler, Alexander Isak, het in sy eerste toernooi geskitter en Swede gelei tot ‘n oorwinning van 5-1 oor Tunisië in Monterrey met ‘n doel en twee bydraes. Nederland en Japan het met 2-elk gelykop gespeel in Dallas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-17-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-597-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-329-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 82-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….