Nuus 11:00
BULLETIN 15 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkminister van Polisie sê die aanslag op onwettige immigrasie fokus op alle rasse en nasionaliteite
# Obama twyfel of die ooreenkoms tussen Amerika en Iran beter as 2015 s’n sal wees
# En sokker: Duitsland, die Ivoorkus en Swede behaal oorwinnings in die Wêreldbekertoernooi
# Die adjunkminister van Polisie, Polly Boshielo, verwerp bewerings dat ongedokumenteerde buitelanders geteiken word. Meer as 40-duisend onwettige buitelanders is sedert begin vanjaar aangekeer, meer as sewe-duisend net die afgelope maand, terwyl die regering onwettige immigrasie teenwerk en grensveiligheid versterk. Boshielo sê die migrasie-bestuurstrategie in verskeie staatsdepartemente fokus op alle rasse en nasionaliteite:
# Vuurwapengeweld behoort nie meer hoofsaaklik hanteer te word as ‘n strafregtelike kwessie in Suid-Afrika nie, maar ‘n volgehoue openbare gesondheidsprobleem. ‘n Studie deur navorsers aan die Universiteit van Kaapstad en Gun Free South Africa toon vuurwapen-verwante moorde het tussen 2020 en verlede jaar van 31- tot 44-persent van alle moorde toegeneem. Dean Peacock van die universiteit sê vuurwapen-beserings moet benewens noodbehandeling ook tot geestesgesondheids-ondersteuning lei. Die studie stel voor vuurwapenbeserings-toesig word versterk en vuurwapen-risiko-sifting word integreer met huishoudelike geweld en geestesgesondheids-dienste.
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, sê die departement het ‘n reeks ingrypings ingestel wat daarop gemik is om skoolveiligheid te verbeter en veilige leeromgewings te skep. Dit volg op die identifisering van 245 hoërisiko-skole, wat gelei het tot geteikende ingrypings om skole te ondersteun wat verhoogde veiligheidsrisiko’s ondervind. Maile sê privaat sekerheids is aanvanklik na 75 skole ontplooi en later uitgebrei na 121 skole wat geïdentifiseer is dat hulle bykomende beskerming en ondersteuning benodig:
Nuus uit die buiteland:
# Die gewese Amerikaanse president, Barack Obama, twyfel of enige ooreenkoms tussen sy land en Iran beduidend anders of ‘n verbetering sal wees op 2015 se gesamentlike omvattende kernooreenkoms. President Donald Trump het dit in sy eerste termyn opgeskort. Washington en Teheran het ‘n vredesooreenkoms bereik, insluitend die heropening van die Seestraat van Hormoes en die beëindiging van Amerika se versperring van Iranse hawens. Obama hoop steeds die ooreenkoms sal slaag:
# Sokker: Die viermalige kampioen, Duitsland, het sy Wêreldbekerveldtog afgeskop deur die nuweling Curacao in Houston 7-1 af te ransel. Ses spelers het doele aangeteken, met Kai Havertz wat twee ingeskop het. Manchester United se vleuel, Adad Diallo, het Ivoorkus in beseringstyd gehelp om Ecuador in Philadelphia 1-0 te klop. Liverpool se voorspeler, Alexander Isak, het in sy eerste toernooi geskitter en Swede gelei tot ‘n oorwinning van 5-1 oor Tunisië in Monterrey met ‘n doel en twee bydraes. Nederland en Japan het met 2-elk gelykop gespeel in Dallas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-15-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-795-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-322-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….