Nuus 07:00
BULLETIN 15 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Amerika en Iran bereik ‘n vredesooreenkoms
# Minister Kubayi sê die regering is in beheer van onwettige migrasie
# En motorsport: Lewis Hamilton wen in Barcelona en behaal sy eerste oorwinning vir Ferrari
# Pakistan se eerste minister, Shehbaz Sharif, het bevestig dat ‘n vredesooreenkoms tussen Amerika en Iran bereik is. Sharif, wat as bemiddelaar opgetree het, sê albei partye het die onmiddellike en permanente beëindiging van militêre operasies op alle fronte verklaar, insluitend in Libanon. President Donald Trump sê Amerika hef sy Vloot-versperring op Iranse hawens op en die Seestraat van Hormoes sal heropen nadat die ooreenkoms onderteken is. Die amptelike ondertekeningseremonie vind Vrydag in Switserland plaas.
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê die regering ignoreer nie immigrasie-kwessies nie, maar is stewig in beheer van die uitdagings. Die tussen-ministeriële komitee op Migrasie, wat president Cyril Ramaphosa gestig het, gee besonderhede oor maatreëls om migrasie-uitdagings te pak te midde van voortgesette betogings teen onwettige immigrante in dele van die land. Kubayi sê die Grensbestuursowerheid het sekerheidsmaatreëls verskerp op alle land-, lug- en see-grensposte:
Kubayi sê ook meer as 40-duisend onwettige buitelanders is sedert begin vanjaar aangekeer, meer as sewe-duisend-400 net in die afgelope maand. Die regering verskerp optrede teen onwettige immigrasie en stel strenger grensbeheer in. Kubayi verwerp die bewering dat Suid-Afrika inherent xenofobies is of nie mense van buite die landsgrense verwelkom nie:
# Die Forum for South Africa eis president Cyril Ramaphosa se bedanking en beskuldig hom daarvan dat hy aanspreeklikheid oor die Phala Phala-saak systap. Die organisasie sê Ramaphosa se regspogings om die Parlement se ampsklagproses te stop, laat ernstige vrae ontstaan oor sy leierskap en geloofwaardigheid. FOSA se woordvoerder, Tebogo Mashilompane, sê die land kan nie gelei word deur ‘n president wie se gedrag ondersoek word nie. Hy sê dis tyd vir aanspreeklikheid en etiese leierskap:
# Die aktivis vir maatskaplike geregtigheid, Mark Heywood, sê die opofferings van die jeug 50 jaar gelede op 16 Junie 1976 het die grondslag gelê vir Suid-Afrika se demokrasie, maar baie van die beloftes van vryheid bly onvervuld. Heywood voer in ‘n meningsartikel in Daily Maverick aan die pad na Jeugdag het in 1976 na die Soweto-opstand begin, met groot persoonlike opofferings. Hy sê Hector Pieterson se dood simboliseer die prys wat vir demokrasie betaal is en vra hernude pogings om ongelykheid, werkloosheid en maatskaplike ongeregtigheid aan te pak.
# Motorsport: Die sewemalige Formule Een-wêreldkampioen, Lewis Hamilton, het sy eerste oorwinning vir Ferrari beklink toe hy die Barcelona-Kataloniese Grand Prix gewen het. Dit was sy eerste oorwinning sedert die Belgiese Grand Prix in Julie 2024, en 106de van sy loopbaan. George Russel van Mercedes was tweede en Lando Norris van McLaren derde – die eerste keer sedert 1968 dat Brittanje al drie podium-posisies inpalm. Die voorloper op die bestuurders-punteleer, Kimi Antonelli, moes laat in die wedren onttrek, maar is steeds 41-punte voor Hamilton na sewe wedrenne.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-18-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 21-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-620-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-315-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….