Nuus 17:00
BULLETIN 11 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika vra vir ‘n versnelde instelling van die konvensie oor gestremdhede
# LP’s eis antwoorde oor die vermiste Phala Phala-rusbank
# En sokker: ‘n Kat, olifante en ‘n seekat voorspel die wenner van die Wêreldbekeropeningswedstyd
# Die minister vir Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, doen ‘n beroep op lande om die Konvensie vir die Regte van Persone met Gestremdhede vinniger in te stel. Sy het gister by die Verenigde Nasies se hoofkwartier in New York, Suid-Afrika se verklaring gelewer by die 19de sitting van die Konferensie van Statepartye by die konvensie. Chikunga sê die regering maak vordering om die teiken van vyf-persent van persone met gestremdhede in die staatsdiens te bereik:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Polisie beskuldig die polisie dat hulle dele van die ondersoek na die plaas Phala Phala-rooftog toesmeer. Parlementslede bevraagteken waarom die hoof van die Presidensiële Beskermingsdiens, Wally Rhoode, vrygespreek is in ‘n interne polisie-ondersoek ondanks bevindings dat hy onbehoorlik opgetree het. Komiteelede eis ook antwoorde oor die rusbank wat vermis word, wat deel vorm van die diefstal van ongeveer tien-miljoen-rand op president Cyril Ramaphosa se plaas, aangesien dit ‘n belangrike bewysstuk in die saak bly.
# Die DA vra dringende provinsiale ingryping om die voortdurende rioolbesoedeling in Mogale City aan te pak. Die party se omgewingswoordvoerder, Leanne de Jager, sê gebrekkige afvalwater-infrastruktuur hou ‘n bedreiging in vir die Blougatspruit, die Krokodilrivier en die Wieg van die Mensdom-wêrelderfenisterrein. Sy sê 12 van 14 rioolpompstasies is buite werking en miljoene liter onbehandelde afvalwater beland daagliks in waterweë, wat ernstige omgewings- en gesondheidsgevare inhou:
# Sokker: DStv het SportyTV by sy Access-, Family-, Compact- en Compact Plus-pakkette gevoeg op satelliet- en stroomplatforms, met die aanvang van die Wêreldbekertoernooi in Noord-Amerika. Die 24-uur-sportkanaal, beskikbaar op Kanaal 236, fokus hoofsaaklik op sokker. SportyTV het onlangs die regte op alle toernooiwedstryde verseker. Intekenaars kan wedstryde op SuperSport ook kyk, maar SportyTV bied ‘n losstaande stroomkeuse vanaf slegs tien-rand om sokker-ondersteuners se toegang uit te brei.
# Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-849-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-75-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 92-dollar-41-sent per vat.
# En laastens, met die Wêreldbeker wat amptelik vandag begin, voorspel ondersteuners oral die wenners van die openingswedstryd tussen Suid-Afrika en Mexiko, met selfs diere wat met hul pote, slurpe en tentakels ‘n voorspelling probeer waag. Die bekende internetkat “Nimbus die Koning” het vol vertroue ‘n oorwinning vir Mexiko voorspel, terwyl twee olifante by ‘n dieretuin in Mexiko ook die gashere as die wenners gekies het. By die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad het die inwonende seekat, Cherry, egter min lojaliteit getoon met ‘n voorspelling wat goeie nuus sal wees vir diegene wat hul calamari met salsa wil eet.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….