Nuus 15:00
BULLETIN 11 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA bestempel die regering van nasionale eenheid as ‘n mislukking ná twee jaar aan bewind
# ‘n Vereniging sê die brandstof-imbizo pak energie-oorgang en voorsieningsekerheid aan
# En padwedlope: Die burgemeester loof die erkenning van die Kaapstadse Marathon as deel van die elite wêreld-marathonreeks
# ActionSA sê die regering van nasionale eenheid het misluk en nie sy beloftes nagekom sedert hy twee jaar gelede gestig is nie. Die party beweer die regering het swak presteer in leierskap, ekonomiese groei, dienslewering, verantwoordbaarheid en misdaad. Athol Trollip van ActionSA het op ‘n nuuskonferensie gesê die RNE het ook misluk in etiese leierskap en openbare diens, en sy prestasie in misdaad en veiligheid is nog swakker:
# Die hoofinspekteur van Gautengse Verkeer, Samuel Mashaba, is voor die Madlanga-kommissie uitgevra oor sy hantering van ‘n voorval met ‘n vragmotor wat 715-kilogram kokaïen van ‘n geraamde 300-miljoen-rand vervoer het. Die dwelms was in ‘n skeepsvraghouer versteek en is in Julie 2021 onderweg van Durban na Johannesburg nagespoor. Getuienisleier Lee Segeels-Ncube vra waarom die voertuig nie by die Heidelbergse weegbrug voorgekeer is nie, al is Mashaba skynbaar vooraf ingelig:
# Die Brandstofbedryfvereniging van Suid-Afrika sê sy eerste Brandstofbedryf-imbizo vind op ‘n kritieke tyd vir die sektor plaas. Uitvoerende direkteur Avhapfani Tshifularo sê besprekings fokus op die bedryf se gereedheid vir die Skoon Brandstof-program wat volgende jaar in werking tree, toekomstige brandstofaanvraag, nuwe energievoertuie en die rol van biobrandstowwe in die oorgang na skoner energie. Hy verwelkom besprekings oor brandstofpryse en vloeibare petroleumgas as ‘n skoner oplossing vir kookdoeleindes:
# Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid sê sy sakevertroue-aanwyser het verlede maand ‘n geringe herstel getoon en met 0,5-punte tot 124,1 gestyg ná ‘n skerp daling in April. Sakevertroue bly aansienlik hoër as ‘n jaar gelede, ondanks onlangse wisselvalligheid. Die kamer sê verbeterde voertuigverkope en uitvoervolumes het vooruitsigte versterk, terwyl dalende toeristegetalle en hoër inflasie vertroue onder druk geplaas het. Die kamer sê stygende oliepryse en streekskonflik hou steeds gevare in, hoewel ‘n bestendige rand gehelp het om die druk te verlig.
# Padwedlope: Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het die bevestiging van die Kaapstadse Marathon as die agtste wedloop in die Wêreldmarathonreeks verwelkom as ‘n geskiedkundige prestasie. Die wedloop is die eerste byeenkoms op Afrika-bodem wat by die gesogte reeks aansluit, naas marathons in Tokio, Boston, Londen, Sydney, Berlyn, Chicago en New York. Die Kaapstadse Marathon sal op 23 Mei volgende jaar amptelik by die reeks aansluit. Hill-Lewis het die duisende deelnemers, organiseerders en ondersteuners geprys wat gehelp het om die mylpaal vir Kaapstad en Suid-Afrika te verseker.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-62-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-88-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….