Nuus 12:00
BULLETIN 10 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die veebedryf bepleit vinniger beskikbaarstelling van bek-en-klouseer-entstof
# Nigerië begin met die ontruiming van sy eerste 500 burgers uit Suid-Afrika
# En Eskom ontplooi bykomende spanne om die kragtoevoer na Witzenberg te herstel na stormskade
# Die onafhanklike veebedryfsgroep, FMD Response SA, het die regering versoek om dringend miljoene bek-en-klouseer-entstofdosisse beskikbaar te stel aan privaat veeartse. Die groep sê uitbrekings versprei steeds en bedreig veeproduksie en landelike voortbestaan. Woordvoerder Andrew Morphew sê Suid-Afrika verwag 14-miljoen entstofdosisse, maar slegs sowat 4,4-miljoen beeste is tot dusver ingeënt. Hy voer aan breër deelname vanaf die privaat sektor sal inentings versnel, toegang vir boere verbeter en pogings versterk om die siekte te beperk en uiteindelik uit te roei.
# Die Nigeriese regering begin vandag om die eerste groep van 500 burgers uit Suid-Afrika te ontruim. Owerhede sê die repatriasieprogram sal ten volle befonds word, met ontvangs- en herintegrasiemaatreëls getref vir diegene wat terugkeer huis toe. Die eerste vlug sal vanaand vanaf die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng vertrek en môreoggend in Ikeja land. Nigeriese amptenare sê meer as ‘n duisend burgers het aangedui hulle wil terugkeer huis toe, en verdere ontruimingsvlugte word binnekort beplan.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê die kabinet se besluit om miljarde-rand se e-tolskuld af te skryf, bevestig wat motoriste jare lank aangevoer het, naamlik dat die Gautengse snelwegverbeteringsprojek nooit realisties haalbaar was nie. Die organisasie sê die e-tolstelsel het vinnig misluk en die regering het te lank geneem om dit te erken. Woordvoerder Stefanie Fick sê dit behoort ‘n les te wees vir beter en vinniger regerings-besluitneming:
# Herstelwerk duur voort aan die elektrisiteits-infrastruktuur in die Witzenberg-gebied in die Wes-Kaap ná verlede maand se ernstige stormskade. Die adjunkminister van Elektrisiteit en Energie, Samantha Graham-Maré, sê Eskom het bestendige vordering gemaak met die herstel van beskadigde infrastruktuur, hoewel boere reeds amper ‘n maand worstel sonder krag. Sy verwelkom die bykomende spanne van die Vrystaat en Gauteng om herstelwerk te bespoedig:
# Krieket: Ben Stokes oorweeg volgens berigte om uit te tree as Engeland se kaptein. Hy en sy spanmaat, Gus Atkinson, word ondersoek nadat hulle blykbaar span-protokolle oortree het. Hulle was Maandag in die vroeë oggendure betrokke in ‘n onderonsie met ʼn Saracens-akademiespeler in ʼn Londense nagklub. Die voorval na Engeland se oorwinning oor Nieu-Seeland in die eerste toets het daartoe gelei dat ʼn veiligheidsbeampte van Engeland en Wallis se Krieketraad steke moes kry. Stokes oorweeg dit glo ook om sy loopbaan van 15-jaar vaarwel te roep.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-10-sent teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-468-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-171-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….