Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 10 Junie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die tweede in bevel van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, generaal-majoor Feroz Khan, het volgens ‘n beëdigde verklaring in die Madlanga-kommissie se besit na bewering sowat 280-miljoen-rand in gunslone van die Tesourie ontvang.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ook oor Khan se inmenging in die polisie se tenderprosesse. Die koerant skryf hy het dit na bewering gedoen om sy vriend Mohammadh Sayed te bevoordeel. Hy is ‘n senior uitvoerende beampte by die Carnilinx-tabakmaatskappy.
En tweedens skryf die webblad president Donald Trump sê die vredesonderhandelinge in die Midde-Ooste is glo in ‘n finale stadium.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die 27-jarige Ntanganedzeni Siphugu van Limpopo het vlugtig in die Tshilwavhusiku-landdroshof verskyn op aanklag van moord op haar twee kinders van ses en nege jaar oud nadat sy hulle na bewering vergiftig het.
En tweedens word berig gemeenskapsaktiviste en vrywilligers in Durban is in gesprek met die Malawiese owerhede om dringend ongeveer 500 ontheemde Malawiërs terug te stuur huis toe.
# Sowetan:
Berig die sokkergees loop hoog in Mexiko Stad op die vooraand van Suid-Afrika se eerste Wêreldbeker-kragmeting teen Mexiko. Die koerant skryf die kragmeting is ‘n replika van 2010.
# En The Citizen:
Skryf huishoudelike geskille is een van die vernaamste oorsake van moorde binne gesinsverband. Volgens die jongste misdaadstatistiek is 172 mense vermoor as gevolg van ‘n ‘misverstand’.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die kommerwekkende toename in xenofobiese betogings en geweld in die Wes-Kaap. Die koerant skryf die polisie het twee mans in hegtenis geneem in verband met die moord op twee Mosambiekse burgers in Mosselbaai.
En tweedens word berig die hoof van rampbestuur in die Wes-Kaap, Colin Deiner, sê ‘n nuwe model vir die finansiering van rampbestuur is nodig, want munisipaliteite kan nie tans dringende herstelwerk vinnig afhandel nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig Lonwabo Ngoqo is in ‘n omstrede stap aangestel as die waarnemende stadsbestuurder van die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit. Sy aanstelling volg op die skorsing van die vorige stadsbestuurder en is daarop gemik om administratiewe bestendigheid te bied.
En tweedens skryf die koerant daar het ‘n nuwe geveg in die Nelson Mandelabaai-metroraad uitgebreek. Dit gaan oor begrotingstoekennings aan wyke.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Hooggeregshof in Durban het ‘n disrikstender van sewe-miljard-rand in Pietermaritzburg tersyde gestel en die toekenning van die projek gestaak. Die hof het onreëlmatighede in die tenderproses gevind en die kontrak ongeldig verklaar.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die regering oorweeg ‘n opdrag van president Netumbo Nandi-Ndaitwah om behuising en sanitasie in Namibië tot ’n noodtoestand te verklaar.
Tweedens skryf die koerant terwyl ’n begraafplaas in die Omega 1-nedersetting teen byna ’n miljoen-rand omhein word, staan die skool vervalle.
En laastens is daar nuus oor ‘n nuwe radiostasie vir die Kavangostreke.