Nuus 06:00
BULLETIN 10 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering verwelkom die sesde agtereenvolgende ekonomiese groeiperiode
# Die Departement van Arbeid ondersoek die hantering van werwingsdokumente
# En hernieude Israelse aanvalle in Libanon eis agt lewens
# Die regering sê die ekonomie toon steeds positiewe groei, maar meer moet nog gedoen word om uitbreiding te bevorder, werk te skep en beleggings te lok. Die Suid-Afrikaanse ekonomie het met 0,5-persent in die eerste drie maande van hierdie jaar gegroei, wat ses agtereenvolgende periodes van groei aandui. Die adjunk-regeringswoordvoerder, William Baloyi, sê die jongste bruto binnelandse produk-aanwysers dui aan die groei is gedryf deur sterk prestasie in die finansiële sektor, handel, vervoer, kommunikasie en landbou:
Die ANC sê intussen die ekonomiese groei in die eerste kwartaal van die jaar, is ‘n bemoedigende bewys dat die hervormings en ingrypings wat deur die regering ingestel is, bydra tot verbeterde ekonomiese aktiwiteit. Volgens Statistiek Suid-Afrika was die finansiële sektor die grootste bydraer aan die produksiekant van die ekonomie, met ‘n bydrae van 0,2 persentasiepunte tot die algehele groei van die bruto binnelandse produk. Landbou, handel en vervoer het ook goed presteer. Die ANC sê hulle erken dat daar nog baie werk gedoen moet word om werkloosheid, armoede en ongelykheid aan te spreek.
# Die Departement van Indiensneming en Arbeid ondersoek die hantering en verwydering van werksaansoekdokumente, insluitend moontlike oortredings van persoonlike inligting. ‘n Amptenaar is geskors en ‘n onafhanklike ondersoeker is aangestel om ‘n deeglike hersiening te verseker. Die departement kyk ook of die saak by die Inligtingsreguleerder aangemeld moet word ingevolge wette oor databeskerming. Teboho Thejane van die departement het verskoning gevra vir enige ontsteltenis wat veroorsaak is.
# Die DA sê Gautengse leerders kan weereens ‘n skoolplasingskrisis ervaar, aangesien die provinsiale onderwysdepartement nog nie aansoeke vir volgende jaar se graad een- en graad agt-toelatings geopen het nie. Sergio Isa Dos Santos van die DA sê die gebrek aan duidelike tydlyne laat ouers onseker voel en kan daartoe lei dat duisende leerders laat geplaas word of skooltyd mis, soos reeds in vorige jare gesien is:
# Die Israelse Weermag het gister Libanon opnuut aangeval, waartydens minstens agt mense dood en 32 gewond is. Dit is ten spyte van Israel se waarskuwing aan die inwoners van Tirus in die suide van Libanon om te ontruim. Israel en Iran het Maandag vyandelikhede gestaak nadat die land die Iran-gesteunde gewapende groep Hisbolla aangeval het. Dit was die eerste geweld sedert die skietstilstand in April. Die Israelse Weermag sê die jongste aanval was omdat Hisbolla die skietstilstand oortree het en die noorde van Israel aangeval het.
# Krieket: Die kaptein van die Proteas-vrouespan, Laura Wolvaardt glo die insluiting van die veterane Shabnim Ismael en Dané van Niekerk sal die span versterk in die T20-Wêreldbeker wat Vrydag in Engeland en Wallis begin. Hulle het hul vroeëre uittrede herroep, maar Wolvaardt sê hulle was die hele tyd aktief en sal Suid-Afrika help om ‘n stap verder te gaan nadat hulle die eindstryd van die afgelope drie witbal-Wêreldbekers gehaal het. Die Proteas speel in hul groepwedstryde teen Australië, Pakistan, Indië en Nederland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-718-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-233-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….