Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 8 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbok-Sewes se afrigter, Philip Snyman, is uiters trots op sy span en hoe hulle dié seisoen deurgaans presteer het. Die Blitsbokke het hulle Sewes-wêreldreeks-sege opgevolg deur hulle Wêreldkampioenskapstitel suksesvol te verdedig. Tristan Leyds het die toekenning as die Mans-sewes-speler van die jaar verower terwyl hy en sy spanmaat, Shilton van Wyk, ook in die seisoen se Droomspan aangewys is. Snyman sê die span beweeg in die regte rigting:
Vyftienman-rugbynuus: Die Springbok-hulpafrigter Tony Brown het ‘n tweejaarkontrak vanaf 2028 gesluit met Nieu-Seeland, vir wie hy tussen 1999 en 2001 18 toetse gespeel het. Sy kontrak met die Bokke eindig na volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi in Australië. Dave Rennie en die res van sy All Blacks-afrigtingspan is tans net tot die Wêreldbeker-toernooi gekontrakteer. Die uitvoerende hoof van Nieu-Seeland Rugby, Steve Lancaster, sê Brown is ‘n wêreldklas-afrigter:
# Tennis: Die Italianer Flavio Cobolli is die eerste keer onder die mans-top-tien nadat hy die Franse Ope-eindstryd gehaal het. Hy het vier plekke tot tiende verbeter nadat hy teen nommer-drie, Alexander Zverev van Duitsland, verloor het. Jannik Sinner van Italië en die Spanjaard Carlos Alcaraz bly boaan die ranglys. Die voormalige nommer-een, Novak Djokovic van Serwië, het drie posisies afgeskuif na sewende. Felix Auger-Aliassime van Kanada is vierde, die Amerikaner Ben Shelton vyfde, die Australiër Alex de Minaur sesde, die Rus Daniil Medvedev agste en die Amerikaner Taylor Fritz negende.
Steeds op die Franse Ope: Maja Chwalinksa van Pole het ‘n ongelooflike 93 wêreldrangleer-posisies tot 21ste opgeskiet na sy die eindstryd gehaal het. Die 24-jarige is die eerste kwalifiseerder ooit om Roland Garros se titelstryd te bereik. Sy het in skoon stelle teen die Rus Mirra Andreeva verloor, wat van agste tot sesde posisie opskuif. Aryna Sabalenka van Belarus is steeds eerste, gevolg deur Elena Rybakina van Kazakstan en nog ‘n Pool, Iga Swiatek. Die Amerikaners Jessica Pegula en Amanda Anisimova voltooi die top-vyf.
# En motorsport: Mercedes se 19-jarige renjaer, Kimi Antonelli, het weereens oorheers tydens ‘n chaotiese Monaco Grand Prix vir sy vyfde agtereenvolgende oorwinning hierdie seisoen. Lewis Hamilton van Ferrari was tweede en Isack Hadjar van Red Bull derde. Antonelli is nou 66 punte voor Hamilton in die bestuurders-kampioenskap, gevolg deur sy spanmaat George Russell, wat gister 13de geëindig het. Antonelli is tevrede met sy motor se algehele prestasie die naweek:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….