NUUSFLITS SPORTNUUS 11 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en tellings:
# Ons skop af met rugby: Die vier Suid-Afrikaanse spanne in die Verenigde Rugbykampioenskap takel mekaar môre in plaaslike derbies voor ‘n weeklange ruskans. Die Leeus speel om drie-uur teen die Stormers in Johannesburg en die Bulle en die Haaie sal twee uur later op Loftus Versveld teen mekaar opdraf. Dan vertrek hulle almal na Europa vir een ronde wedstryde voordat hulle na Suid-Afrika terugkeer vir volgende maand se twee rondes teen oorsese spanne.
In ander rugbynuus speel Engeland op 19 Junie teen die Barbarians op Twickenham ter voorbereiding van hulle toer na Australië in Julie. Die wedstryd sal die twee spanne se eerste ontmoeting in drie jaar wees. Engeland se afrigter, Eddie Jones, sê die wedstryd teen die Barbarians is ‘n spesiale een in rugby. Dis altyd ‘n goeie uitdaging vir die spelers, vermaaklik vir ondersteuners en dit wys die gees van die spel. Hy sê die wedstryd is goeie voorbereiding voordat hulle na Australië vertrek.
# Atletiek: Die ANC in die Wes-Kaapse wetgewer sê hy is woedend oor die administratiewe traagheid aan Stad Kaapstad se kant wat die uitstel veroorsaak het van die Tafelbaai-sone-interskole-byeenkoms wat gister moes plaasvind. ‘n Woordvoerder, Khalid Sayed, sê die Hoërskole-atletiekkomitee het die skole wat geraak is, ingelig die metro het nie ‘n permit vir die byeenkoms toegestaan nie. Sayed sê weens slordige bestuur het die raad die dag vir verskeie skole bederf.
# Olimpiese Spele: Die Russiese sierskaatser Kamila Valieva is positief getoets vir ‘n verbode middel, trimetasidien. Die Russiese Agentskap teen Verbode Middels het op Kersdag ‘n monster van die 15-jarige verkry. Dit is eers Dinsdag by die agentskap getoets, ‘n dag nadat sy by die Winter Olimpiese Spele in Beijing ‘n goue medalje in die span-item gewen het. Sy is voorlopig geskors, maar het die skorsing teengestaan, waarna die agentskap Woensdag ingestem het om die skorsing op te hef. Die Internasionale Olimpiese Komitee het vertoë tot die Arbitrasiehof vir Sport gerig dat Valieva se skorsing van krag bly.
# En laastens motorsport: Die kommentator Martin Brundle sê dis ongemaklik om te luister na radiogesprekke tussen die F1-wedrendirekteur Michael Masi en die sportdirekteur van Red Bull, Jonathan Wheatley, tydens verlede jaar se Grand Prix in Abu Dhabi. Dit het onlangs weer opgeduik. In die boodskappe kan gehoor word hoe Wheatley by Masi aanbeveel hoe om stadige motors te hanteer wat tussen die voorlopers beland het. Masi se besluit het daartoe gelei dat Max Verstappen van Red Bull, Lewis Hamilton van Mercedes, kon verbysteek om te wen. Brundle sê die aanloop tot Verstappen se kampioenskaps-oorwinning is hoogs onaanvaarbaar.
Dis jou Sportnuus op ……………….bly ingeskakel vir meer.