NUUSFLITS SPORTNUUS 10 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en tellings:
# Ons begin met krieket: Kyle Jamieson van Nieu-Seeland, Rishabh Pant van Indië, Fakhar Zaman van Pakistan en Saqib Mahmood van Engeland is die groot wenners op vanjaar se ESPN CricInfo-prysuitdeling. Jamieson is aangewys as wenner in die afdeling vir toetsboulers en Pant is die beste toetskolwer. Zaman en Mahmood is onderskeidelik die beste kolwer en bouler in eendag-internasionale wedstryde. Jos Buttler van Engeland het die prys gewen vir die beste kolwer in T20s, en Shaheen Afridi van Pakistan is die beste bouler. Kane Williamson van Nieu-Seeland is kaptein van die jaar.
Intussen sê die gewese Engelse kaptein, Nasser Hussain, hy het simpatie met James Anderson en Stuart Broad omdat hulle beter verdien. Die twee snelboulers is nie ingesluit by Engeland se 16-man-span wat volgende maand in die toetsreeks teen die Wes-Indiese Eilande gaan speel nie. Die 39-jarige Anderson het met 640 die meeste toets-paaltjies ooit vir Engeland platgetrek, terwyl die 35-jarige Broad tweede is met 537 paaltjies. Hussain het aan Sky Sport gesê hy hoop nie dit beteken die einde van die twee se loopbane nie:
Speel klankgreep: ENG HussainOnBroadAnderson
# Rugby: Die Stormers-afrigter John Dobson sê die werk aan sy span is nog nie afgehandel nie. Die Wes-Kaapse groep het goed weggespring in vanjaar se Verenigde Rugby-kampioenskap deur die Bulle te verslaan en ‘n gelykoptelling en oorwinning teen die Haaie te behaal. Dobson sê hulle is waarskynlik nie regtig so goed soos die lof wat hulle die afgelope weke ontvang het nie. Hy sê hy moedig sy spelers aan om steeds te ontwikkel en nie grootkop te kry oor lofuitinge nie. Die Stormers takel die Leeus Saterdag in Johannesburg.
# Tennis: Die wêreld se nommer een, Novak Djokovic, is op die inskrywingslys vir die Indian Wells-toernooi wat op die sewende van volgende maand in Amerika begin. Buitelandse reisigers moet sedert November verlede jaar ten volle teen Covid-19 ingeënt wees en ‘n bewys verskaf voordat hulle aan boord van ‘n vliegtuig gaan om na Amerika te reis. Slegs beperkte uitsonderings word toegelaat. Die Serwiër is verlede maand uit Australië verban omdat hy nie ingeënt was nie. Djokovic, wat in November verlede jaar laas ‘n wedstryd gespeel het, sal na verwagting later die maand in die Dubai-kampioenskap in aksie wees.
# En laastens motorsport: Red Bull het sy motor, die RB18, vir vanjaar se Formule Een-seisoen bekend gestel. Die span hoop om sy bestuurderstitel in die wêreldkampioenskap te verdedig. Max Verstappen het die titel gewen nadat Red Bull in 2013 laas daarmee kon spog. Die Amerikaanse wolkmaatskappy, Oracle, borg tans die span se titel en het ook hulle finansiële ondersteuning vanjaar aansienlik verhoog. Red Bull se spanbaas, Christian Horner, sê ná verlede jaar se sukses is die span gereed vir vanjaar se veldtog:
Speel klankgreep: ENG HornerOnSeason
Dis jou Sportnuus op ……………….bly ingeskakel vir meer.