NUUSFLITS SPORTNUUS 8 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en tellings:
# Ons skop af met rugby: Suid-Afrikaanse Rugby het die Springbokke se tuistoets-skedule vir vanjaar bevestig. Die Bokke sal hul seisoen in Julie afskop met drie toetse teen Wallis. Hulle sal daarna die tuistoetse van hul Rugbykampioenskap-veldtog begin met twee kragmetings teen die All Blacks in Augustus. Die Bokke sal hul veldtog afsluit met ‘n tuistoets teen Argentinië op 24 September in Durban. Die oorsese toetse behels drie wedstryde, naamlik twee teen Australië en een teen Argentinië in Buenos Aires.
Intussen sê die voormalige vleuel van die Springbokke en die Leeus, Aphiwe Dyantyi, die afgelope paar jaar was uitdagend, maar hy is vasbeslote om weer te speel. Hy is vir vier jaar uit die sport geskors nadat hy positief getoets het vir drie verbode middels, en nie kon bewys dat hy dit per abuis ingeneem het nie. Sy skorsing duur van 13 Augustus 2019 tot 12 Augustus 2023. Die 27-jarige speler het op sosiale media gesê die afgelope drie jaar was ‘n leerskool en hy sal niks aan sy lewensreis verander nie.
# Krieket: Nieu-Seeland se kaptein, Kane Williamson, is weens ‘n knaende elmboog-besering uit die twee-wedstryd-toetsreeks teen Suid-Afrika. Tom Latham sal die span lei. Die blitsbouler Trent Boult sal die eerste toets misloop in afwagting op die geboorte van sy derde kind. Nuwelinge Cam Fletcher en Blair Tickner is ingeroep vir wat moontlik albei se toetsdebuut sal wees. Die Nieu-Seelandse afrigter, Gary Stead, sê hy het vir die reeks genoeg talent tot sy beskikking om vir Williamson se afwesigheid te vergoed.
# Sokker: Die Verenigde Koninkryk en die Republiek van Ierland het hulle bod om die 2030-wêreldbeker aan te bied, laat vaar om eerder gesamentlik te bie op die Europese Kampioenskap vir mans in 2028. Die uitvoerende hoof van Engeland se sokkervereniging, Mark Bullingham, sê die besluit is geneem nadat ‘n uitvoerbaarheidstudie vir die 2030-toernooi op talle onsekerhede afgekom het. Hy sê die studie het bevind daar is slegs ‘n klein finansiële verskil tussen ‘n bod op die Wêreldbeker en dié op die Europese Kampioenskap. Spanje en Portugal sal na verwagting gesamentlik bie om die 2030-wêreldbeker aan te bied.
# En laastens tennis: Die Vroue-tennisvereniging sê hulle is steeds bekommerd oor die Chinese speler Peng Shuai. Sy het in ‘n onderhoud met die Franse koerant, L’Equipe, gesê sy het nooit beweer sy is seksueel aangerand nie en haar sosialemedia-inskrywing in November was ‘n groot misverstand. In die inskrywing wat vinnig verwyder is, beweer sy ‘n senior regeringsamptenaar het haar seksueel aangerand. Die vereniging se uitvoerende hoof, Steve Simon, sê hulle het versoek dat die betrokke owerhede ‘n amptelike ondersoek na die bewerings van stapel stuur en dat die vereniging geleentheid kry om Peng se situasie privaat met haar te bespreek.
Dis jou Sportnuus op ……………….bly ingeskakel vir meer.