Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 9 April 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val vandag weg met die Olimpiese Spele: Die Olimpiese ringe gaan tydens die Spele op die Eiffel-toring in Parys vertoon word. Daar word die einde van die maand begin om die embleem aan te bring aan die kant van die wêreldberoemde toring wat oor die Seine-rivier in die Franse hoofstad uitkyk. Die organiseerders sê die Olimpiese vlam sal in die Tuilleries-tuine naby die Louvre-museum brand. Vanjaar se openingseremonie word nie in ‘n stadion gehou nie, maar op die Seine waar die atlete op ‘n vloot bote sal paradeer.
# Vervolgens, tennis: Die groot kanonne begin van vandag met hulle Monte Carlo-meestersveldtogte na hulle loslootjies in die eerste ronde. Die wêreld nommer een, Novak Djokovic van Serwië, het die kleibaantoernooi reeds twee keer gewen, maar kon sedert 2015 nie verder as die kwarteindronde vorder nie. Die tweede-gekeurde Jannik Sinner van Italië is op die oomblik die speler om dop te hou, nadat hy tot dusver vanjaar drie toernooie ingepalm het. Die derde-gekeurde Spanjaard Carlos Alcaraz is ‘n bietjie onseker of sy enkel genoegsaam herstel het. Die Rus Daniil Medvedev is vierde gekeur en die Duitser Alexander Zverev vyfde.
# Sokker is volgende aan die beurt: Engeland se Premierliga het nog twee punte afgetrek van Everton vir die verbreking van winsgewendheids- en volhoubaarheidsreëls. Die besluit laat die klub net twee punte bo die relegasiesone nadat hulle vroeër met ses punte gestraf is. Die liga sê die jongste straf is opgelê nadat Everton erken het hulle het die toegelate besteding van ‘n verlies van 3,4-miljard-rand oor drie seisoene met 390-miljoen-rand oorskry. Die klub skryf dit toe aan faktore soos die verlies aan ‘n borgskap weens Rusland se inval in Oekraïne.
Nog sokker: Uefa sê hy sal binne die volgende paar weke ‘n finale besluit neem oor die moontlike uitbreiding van spelergroepe vir die komende Europese Kampioenskap. Slegs 23 spelers word tans in ‘n groep toegelaat. Uefa sê hy glo groter groepe sal die probleem van beserings en die geweldige fisieke uitdagings op spelers beperk. Hy sê sekere afrigters wat die kleiner groep van 23 spelers verkies, wys op verskeie faktore soos groepbestuur en groter kostes wat dit vir nasionale verenigings kan meebring.
# En, ons sluit af met gholf: Die Meesterskampioen, Jon Rahm, meen sy winsgewende oorskakeling na die Saoedi-gesteunde LIV-gholfliga kan ‘n keerpunt wees. Die voormalige wêreld nommer een het dié seisoen in vier van sy vyf LIV-toernooie onder die voorste agt geëindig. Die Spanjaard sê in ‘n onderhoud met BBC Sport LIV het die vermoë om die diens van byna enige vooraanstaande speler te verkry:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….