Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 15 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbok-slot Eben Etzebeth is aangewys as 2023 se manspeler van die Jaar op die SA Rugby-toekennings in Johannesburg. Hy is slegs die tweede speler wat daarin kon slaag om dié toekenning agtereenvolgens in te palm. Die Bok-vleuel Canan Moodie is die tweede agtereenvolgende jaar as Jong Speler van die Jaar bekroon. Libbie Janse van Rensburg het met die Springbok-vroue- en Provinsiale Speler van die Jaar-toekennings weggestap. Ricardo Duarttee het die Springbok-mans-sewesspeler van die Jaar gewen, en die voormalige Bok-breier Jacques Nienaber is die Afrigter van die Jaar.
Nog rugbynuus is dat Frankryk vir Engeland pak in hulle laaste-ronde Sesnasieswedstryd in Lyon met dieselfde span wat Wallis verlede naweek 45-24 geklop het. Die gereelde heelagter, Thomas Ramos, behou die nommer tien-trui nadat Matthieu Jalibert en Romain Ntamack beseer is. Hoofafrigter Fabien Galthie het weer ses voorspelers en twee agterspelers op die bank gekies as teenvoeter vir Engeland se verwagte fisieke aanslag. Engeland is tans tweede op die punteleer, vier punte agter Ierland, met Frankryk vierde.
# Krieket: Die Delhi Capitals het die Protea-snelbouler Lungi Ngidi van dié seisoen se Indiese Premierliga vrygestel nadat hy beseer is. Die kompetisie begin volgende week. Die 27-jarige het verlede maand ‘n laerrugbesering opgedoen in die uitspeelrondes van die SA20. Krieket Suid-Afrika se mediese span monitor Ngidi en hy ondergaan rehabilitasie by sy provinsiale span, die Titans. Hy sal na verwagting volgende maand weer op die veld wees.
# Gholf: Kylie Henry van Skotland het drie-onder-baansyfer 71 aangeteken om haar voorsprong te vergroot voor vandag se laaste ronde van die Vroue Ope op die Royal Cape in Kaapstad. Die Suid-Afrikaners Casandra Alexander en Gabrielle Venter is Henry se naaste teenstanders op vyf-onder-baansyfer. Die wenner van die SuperSport-vroue-uitdaging, Tvesa Malik van Indië, is op vier-onder baansyfer gelykop vierde saam met Emie Peronnin van Frankryk en Florentyna Parker van Engeland.
# En laastens, tennis: Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, kom in Indian Wells se halfeindronde teen die Italianer Jannik Sinner te staan. Die Spanjaard het Alexander Zverev van Duitsland 6-3, 6-1 afgeransel. Die Australiese Ope-kampioen, Sinner, het sy segetog tot 19 uitgebrei toe hy Jiri Lehecka van die Tsjeggiese Republiek 6-3, 6-3 geklop het om die tweede agtereenvolgende jaar onder die laaste vier te eindig. Sinner sê hy het vanjaar baie meer selfvertroue in aanloop tot die halfeindronde:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….