Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 5 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Die wêreld se teen-opkikkeragentskap, WADA, het die Suid-Afrikaanse opkikkerbeheer-laboratorium in Bloemfontein vir tot ses maande geskors omdat dit nie die internasionale standaard vir laboratoriums se regulasies nakom nie. Die agentskap sê die skorsing verbied die laboratorium om enige teenopkikker-aktiwiteite uit te voer. Dit sluit in die ontleding van urien- en bloedmonsters, maar ontledings wat verband hou met die hematologiese module van atlete se biologiese paspoort word wel toegelaat. Die instelling is Afrika se enigste geakkrediteerde laboratorium vir opkikkertoetse.
# Rugby: Springbok-ondersteuners sal teleurgesteld wees oor die nuus dat al die algemene kaartjies vir hulle eerste tuistoets van die jaar uitverkoop is. Dit het net 30 minute geduur vir al die kaartjies om opgeraap te word vir die toets teen Ierland op Loftus Versfeld in Pretoria op die sesde Julie. Maar daar is nog geleenthede. Kaartjieverkope vir die tweede toets ‘n week later in Durban open Dinsdag. Die wêreldkampioen skop sy seisoen op 22 Junie af teen Wallis op Twickenham in Londen.
Nog rugby: Sewe nuwe spelers is by die Springbok-vrouespan van 32 spelers ingesluit wat later die maand vir ‘n toer van drie weke na die Verenigde Koninkryk en Spanje vertrek. Nolusindiso Booi is die kaptein, met Babalwa Latsha en Tayla Kinsley as onderkapteins. Die span speel die 23ste van die maand in Vallalolid teen Spanje, en die 30ste in Londen teen Amerika. Die Springbok-vroue se afrigter, Louis Koen, sê die toer is uiters waardevolle voorbereiding vir die Rugby-Afrika-Vrouebekertoernooi in Madagaskar in Mei:
# Motorsport: FIA se president, Mohammed Ben Sulayem, word volgens berigte ondersoek omdat hy probeer het om in te meng by die uitslag van verlede jaar se Formule Een Grand Prix in Saoedi-Arabië. Hy het na bewering probeer ingryp om ‘n boete aan Fernando Alonso van Aston Martin om te keer. Alonso het voorwaardelik derde geëindig op die baan in Jeddah, maar ná die wedren ʼn boete van tien-sekondes gekry omdat werktuigkundiges aan sy voertuig gewerk het voordat ʼn vorige straftydperk van vyf sekondes verstreke was. Die FIA se etiekkomitee ondersoek die saak.
# En, laastens, sokker: Australië en Chelsea se doelskopper, Sam Kerr, het onskuldig gepleit op ʼn aanklag van rasse-teistering van ʼn Londense polisiebeampte. Die 30-jarige speler word beskuldig dat sy in Januarie op Twickenham beledigende, dreigende of skeldtaal gebruik het wat ʼn polisiebeampte ontsteld of bedreig laat voel het. Kerr, wat Australië se rekord-doelskopper is met 64 doele in 125 wedstryde, sal in Februarie volgende jaar verhoor word. Sokker Australië se uitvoerende hoof, James Johnson, sê dis ernstige aantygings en daar is geen plek vir rassisme in die sport nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….