Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 1 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Belastingbetalers het meer as 1,3-miljoen-rand betaal vir die reis en verblyf van die superondersteuners Mama Joy Chauke en Botha Msila tydens verlede jaar se Wêreldbekertoernooi in Frankryk. Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur het die inligting verskaf aan die burgerregtegroep AfriForum, wat dit aangevra het ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting. AfriForum se veldtogbeampte, Charné Mostert, sê sekere besonderhede oor die ondersteuners se volle besteding is steeds nie bekendgemaak nie:
Nog rugby: Die hoofafrigter van die Blitsbokke, Sandile Ngcobo, glo sy spelers kan sake omkeer in die naweek se wêreldsewes-toernooi in Los Angeles, Amerika. Suid-Afrika is sesde op die punteleer na teleurstellende uitslae in die afgelope drie toernooie nadat hulle die eerste toernooi van die seisoen in Dubai gewen het. Hulle speel hulle groepwedstryde in Los Angeles teen die voorlopers op die punteleer, Argentinië, Ierland en Spanje. Ngcobo hou vol die Blitsbokke is goed genoeg om toernooie te wen:
# Gholf: Die Suid-Afrikaners Pieter Moolman en Shaun Norris loop gesamentlik voor na die eerste ronde van die SDC-kampioenskap by St Francis Links in die Oos-Kaap. Die twee is met sewe onder baansyfer op 65 een hou voor Daniel Brown van Engeland. Die verdedigende kampioen, Matthew Baldwin van Engeland, het die ronde op twee onder op 70 voltooi. Norris sê hy is tevrede met die manier waarop hy die uitdagende toestande hanteer het:
Details
# Motorsport: Die sewemalige wêreldkampioen, Lewis Hamilton, sê hy was verras nadat hy die beste tyd aangeteken het in die tweede oefenronde van die seisoen se eerste Grand Prix in Bahrein. Die Mercedes-renjaer was vinniger as sy spanmaat, George Russell, terwyl Fernando Alonso van Aston Martin derde was. Hamilton sê hy is versigtig optimisties:
# En tennis: Die driemalige Grand Slam-kampioene, Venus Williams van Amerika, Caroline Wozniacki van Denemarke en die Brit Emma Raducanu, is as promotorskeuses in die Miami Ope ingesluit. Wozniacki, ‘n finalis in 2017, keer vir die eerste keer sedert 2019 na die tennisbaan terug nadat sy drie jaar gerus het ná die geboorte van haar twee kinders. Die 2022-kampioen, Iga Swiatek van Pole, en die wenner van die Australiese Ope, Aryna Sabalenka van Belarus, is van die top gekeurdes wat van 17 Maart af in die toernooi speel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….