NUUSFLITS SPORTNUUS 22 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en tellings:
# Ons skop af met rugby: Die Springbok-senter, Damian de Allende, sê daar is ‘n aantal positiewe punte wat die span vanuit hierdie seisoen kan neem. Dit sluit die agt oorwinnings uit 13 toetse in, insluitend twee tuisoorwinnings oor Argentinië, die reeksoorwinning oor die Britse en Ierse Leeus, asook die oorwinning oor die All Blacks tydens die Kampioenskap. De Allende sê die span is op die regte pad, want hul besluitneming verbeter en hulle speel meer binne hulself en maak nie op die stelsel alleen staat nie.
# Tennis: Die wêreld nommer drie, Alexander Zverev, mik daarna om volgende jaar ‘n Grand Slam-titel in te palm. Die 24-jarige Duitser het die seisoen op ‘n hoogtepunt afgesluit toe hy die ATP-eindtoernooi die tweede keer gewen het. Hy het Daniil Medvedev van Rusland in die eindstryd in Turyn, Italië, in skoon stelle geklop. Novak Djokovic van Serwië is steeds boaan die wêreldranglys – byna drie-duisend punte voor Medvedev en vier-duisend voor Zverev. Die Duitser glo egter die topposisie is volgende jaar binne sy bereik.
# Sokker: Die afgedankte bestuurder van Manchester United, Ole Gunnar Solskjaer, sê hy het sy bes vir die klub gedoen. Hy het gister die trekpas gekry na Saterdag se vier-een nederlaag op Watford. Manchester United het net een van sy afgelope sewe Premierliga-wedstryde gewen en is sewende op die punteleer, 12 punte agter die voorloper Chelsea. Die afrigter van die eerste span, Michael Carrick, is tydelik in beheer. Solskjaer sê hy het sy tyd by die klub geniet:
Speel klank: ENG SolskjaerOnClub
# Motorsport: Die Mercedes-renjaer Lewis Hamilton het Max Verstappen van Red Bull se kampioenskapvoorsprong tot agt punte verminder met nog net twee wedrenne oor. Die sewemalige wêreldkampioen het die eerste Katarse Grand Prix gewen met Verstappen tweede en Fernando Alonso van die Alpine-span derde, vir sy eerste podiumplek sedert 2014. As Verstappen oor twee weke in Saoedi-Arabië wen en Hamilton eindig nie onder die voorste tien nie, word die Red Bull-jaer die wêreldkampioen met nog een wedren oor. Mercedes loop voor in die vervaardigers-kampioenskap met vyf punte meer as Red Bull.
# En laastens, ‘n potjie gholf: Die vyftienmalige major-kampioen, Tiger Woods, sê hy maak vordering ná sy motorongeluk in Februarie. Hy het ‘n video op sosiale media geplaas waar hy sy gholfstok swaai, met die onderskrif: “Making progress”. Woods het ernstige beenbeserings opgedoen toe hy buite Los Angeles beheer oor sy voertuig verloor het. Die PGA-toernooi se webtuiste sê daar is onlangse video’s van Woods waar hy loop en staan, maar dit is sy eerste amptelike bywerking sedert die video in April waar hy met krukke staan.
Dis jou Sportnuus op ……………….bly ingeskakel vir meer.