NUUSFLITS SPORTNUUS 19 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en tellings:
# Ons begin met krieket: AB de Villiers het sy uittrede uit alle vorme van die sport aangekondig. Hy sê in ‘n verklaring sedert sy en sy ouer broers se wedstryde in hulle agterplaas, het hy krieket net met vreugde en ongebreidelde geesdrif gespeel. De Villiers sê hy is nou 37 en die vlam brand nie meer so helder nie. Hy voeg by dat krieket buitengewoon goed was vir hom, of hy vir die Titans, die Proteas, of die Royal Challengers Bangalore in die Indiese Premierliga gespeel het.
# Rugby: Catha Jacobs gaan die Springbok-vroue Sondag aanvoer in hulle vriendskaplike wedstryd teen Engeland se onder-20’s en sê sy sien uit na die geleentheid. Twaalf spelers gaan die eerste keer op die toer uitdraf in die wedstryd in Londen. Jacobs sê sy maak staat op die ervare spelers omdat Engeland ‘n groot uitdaging gaan bied:
Speel klankgreep: ENG JacobsMatchEngland
# Die 23-malige Grand Slam-kampioen Serena Williams het ook haar stem gevoeg by diegene wat ‘n ondersoek aanvra na waar die Chinese speler Peng Shuai haar bevind. Die 35-jarige is nog nie in die openbaar gesien of van gehoor sedert sy vroeër die maand op plaaslike sosiale media beweer het ‘n gewese visepresident van die land het haar seksueel aangerand nie. Williams hoop Peng is veilig en word so gou moontlik gevind. Die hoof van die WTA, Steve Simon, sê hy het herhaaldelik probeer om Peng in die hande te kry, maar tevergeefs. Sy het twee Grand Slam-dubbelstitels ingepalm.
# Motorsport: Max Verstappen van die Red-Bull-span sê hy verwag nie om gestraf te word ná die voorval met sy mededinger om die Formule Een-titel, Lewis Hamilton, in die Sao Paulo Grand Prix nie. Dit volg nadat Mercedes gevra het vir ‘n hersiening van die besluit om Verstappen nié te straf nie omdat hy Hamilton in Brasilië van die baan gedwing het toe hy hom wou verbysteek. Verteenwoordigers van albei spanne het gister in Katar met die beamptes vergader. Hul besluit word vandag verwag. Verstappen sê hy het gedink dit was ‘n moeilike en regverdige wedren.
# En laastens, Olimpiese nuus: President Joe Biden sê Amerika oorweeg ‘n diplomatieke boikot van volgende jaar se Winterspele in Beijing. Dit is uit verset teen China se menseregterekord, insluitend dit wat Washington bestempel as ‘n volksmoord teen minderheids-Moslems. Volgens die BBC sal ’n diplomatieke boikot beteken geen Amerikaanse amptenare word gestuur om die Spele by te woon nie. Die Sekretaris van die Withuis, Jen Psaki, sê Biden en sy Chinese ampsgenoot, Xi Jinping, het nie Maandag tydens hul drie uur lange virtuele vergadering die Olimpiese Spele bespreek nie:
Speel klankgreep: ENG PsakiOnChina
Dis jou Sportnuus op ……………….bly ingeskakel vir meer.