NUUSFLITS SPORTNUUS 18 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en tellings:
# Ons skop af met rugby: Die Suid-Afrikaanse Rugbyuinie en sy Direkteur van Rugby, Rassie Erasmus, het bevestig hulle gaan appelleer teen Wêreldrugby se optrede teen hulle. Erasmus is vir twee maande uit alle rugby-bedrywighede geskors nadat hy skuldig bevind is op al ses aanklagte teen hom. Dit hou verband met sy kritiek op die wedstrydbeamptes in die eerste toets tussen die Springbokke en die Britse en Ierse Leeus. Erasmus is ook verbied om tot 30 September volgende jaar betrokke te wees op wedstryddae en moet die beamptes om verskoning vra. SA Rugby is met 419-duisend-rand beboet.
# Sokker: Fifa het bevestig ‘n dissiplinêre komitee gaan volgende Dinsdag Suid-Afrika se appèl hersien dat die Wêreldbeker kwalifiserende wedstryd teen Ghana oorgespeel moet word. Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging het ‘n klag gelê oor ‘n duidelike patroon van wedstryd-manipulasie tydens Bafana-Bafana se kwalifiserende wedstryd teen Ghan, met die strafdoel wat onregmatig toegestaan is. Suid-Afrika het die wedstryd met een-nul verloor. Die Fifa dissiplinêre kode laat ‘n appèl toe, gebaseer op ‘n oogelopende fout deur ‘n skeidsregter. Ghana het ook die reg om kommentaar op die saak te lewer.
# Tennis: Garbine Muguruza het geskiedenis gemaak toe sy die eerste Spaanse vrou geword het om die trofee in die WTA-eindtoernooi omhoog te hou. Sy het die Estlander Anett Kontaveit met 6-3 en 7-5 verslaan om die seisoen se laaste titel op te raap in Guadalajara, Mexiko. Muguruza sal volgende week nommer drie op die ranglys wees nadat sy hierdie seisoen drie titels gebuit het, die meeste nog in een seisoen. Intussen het die wêreld se voorste dubbelspaar, Barbora Krejcikova en Katerina Siniakova, met Hsieh Su-wei en Elise Mertens afgereken om hulle eerste WTA-titel te wen.
# Krieket: Die regering van die Australiese staat Victoria het Covid-19-beperkings verder opgehef, wat die weg baan vir ‘n volgepakte MCG-stadion vir die Welwillendheidsdagtoets tussen die Aussies en Engeland. Meer as 90-duisend toeskouers sal na verwagting opdaag vir die langverwagte toets om die As. Die skare is met verlede somer se Welwillendheidsdagtoets teen Indië weens die pandemie beperk tot 30-duisend mense per dag. Vanjaar se besluit volg aangesien Victoria binnekort sy 90-persent-inentingsteiken vir persone ouer as 12-jaar gaan bereik.
# En laastens, ‘n vinnige draai om die renbaan: Verteenwoordigers van die Formule Een-spanne Mercedes en Red Bull vergader vandag met die baanbeamptes in Katar. Dit volg ná Mercedes se versoek dat die besluit om Max Verstappen van Red Bull nie te straf nie, hersien word. Verstappen het Lewis Hamilton van die baan gedruk toe hy by die Sao Paulo Grand Prix probeer het om hom verby te steek. Die versoek is gegrond op nuwe beeldmateriaal van Verstappen se boordkamera ná Sondag se wedren. Die verhoor moet bepaal of Mercedes voldoen aan vereistes dat die besluit hersien word.
Dis jou Sportnuus op ……………….bly ingeskakel vir meer.