NUUSFLITS SPORTNUUS 17 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en tellings:
# Ons skop af met rugby: Die Springbok vrouespeler Micke Gunter sê sy is dankbaar om terug in die span te wees. Haar internasionale debuut vir die nasionale span teen Kenia in Augustus, het ‘n skrale twee minute geduur voordat sy met ‘n kniebesering die veld moes verlaat. Die span berei voor vir Sondag se vriendskaplike wedstryd teen Engeland se onder-20 span in Londen. Gunter sê sy het baie hard gewerk om weer fiks te word en sy kan nie wag om weer te speel nie:
Speel klankgreep: ENG GunterOnInjury
# Gholf: Dylan Naidoo van Suid-Afrika sê hy kan nie wag om die internasionale ondervinding wat hy opgedoen het, volgende Donderdag in die Joburg Ope te toets nie. Die jong beroepspeler van Johannesburg het nou speelvoorregte in drie toernooie – Sunshine, Korn Ferry en MacKenzie. Naidoo sê hy het oorsee gegaan as geleentheid om homself te toets en besef sy spel is goed genoeg om die wêreld aan te durf. Hy het bygevoeg hy is vol vertroue dat hy goed sal vaar in die Joburg Ope.
# Krieket: Die kolwer Usman Khawaja is ingesluit by ‘n Australiese groep van 15 vir die eerste twee toetse om die As teen Engeland. Hy het in die reeks om die As in 2019 laas in ‘n toets gespeel. Die nuweling bybreekbouler, Mitchell Swepson, Travis Head en Jhye Richardson is ook deel van die groep. Ses spelers uit die T20-Wêreldbeker-wenspan wat gister in Australië aangekom het, is ook ingesluit. Die eerste toets begin op die agste van volgende maand in Brisbane, gevolg deur ‘n dag-nag-wedstryd in Adelaide vanaf die 16de.
# Tennis: Die agtste gekeurde Anett Kontaveit het haar indrukwekkende vertoning voortgesit om haar plek in die eindstryd van die WTA-eindtoernooi in Guadalajara, Mexiko, te verseker. Die 25-jarige Estlander het die vierde gekeurde Maria Sakkari 6-1, 3-6, 6-3 verslaan om in haar toernooidebuut na die eindronde deur te dring. Kontaveit kan moontlik haar derde agtereenvolgende titel en haar vyfde van die jaar inpalm. Indien sy dit regkry, sal sy saam met die wêreld nommer een, Ashleigh Barty, met die meeste titels dié seisoen kan spog. Sy kom nou teen Garbiñe Muguruza van Spanje te staan, wat haar landgenoot Paula Badosa 6-3, 6-3 geklop het.
# En laastens, ‘n draai om die renbaan: Die Mercedes Formule Een-span vra om die verslag van die omstrede botsing van Max Verstappen en Lewis Hamilton in die 48ste ronde van die Grand Prix in Sao Paulo, weer onder oë te neem. Dit volg nadat beamptes nie die Red Bull-bestuurder gestraf het toe hy Hamilton gedwing het om uit te swaai nie. Mercedes sê die versoek kom te midde van nuwe inligting wat nie beskikbaar was toe die beamptes hul besluit geneem het nie. As die reg op hersiening aanvaar word, kan Verstappen ‘n straf van vyf sekondes opgelê word wat by sy rentyd gevoeg kan word, of wegspringplekke by die volgende wedren verloor.
Dis jou Sportnuus op ……………….bly ingeskakel vir meer.