Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 14 November 2023:
Maroela Media:
Skryf Cope het sy Johannesburgse speaker, Colleen Makhubele afgedank nadat sy by die South African Rainbow Alliance aangesluit het,
dan word berig Stephan Pretorius van Pretoria-Noord wat aangekla word nadat hy na bewering petrol oor sy vrou Charlene gegooi en haar aan die brand gesteek het, het nie borgtog ontvang nie,
en laastens is daar nuus oor die matrieks se chemievraestel wat uiteenlopende reaksie uitgelok het.
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die graderingsagentskap Moody’s hou Transnet se skuldlas dop met die moontlikheid van ‘n afgradering van die staatsonderneming.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met die moord op ‘n bekende in Pretoriase rugbykringe, die 59-jarige Jaco Basson wat in die omgewing van Winterveld buite Pretoria doodgeskiet is nadat hy op ‘n Facebook-advertensie om ‘n motor te koop gereageer het.
En tweedens skryf die koerant oor die 18-jarige Arnold Dippenaar ‘n matriekleerder by die Hoërskool Waterkloof in Pretoria wat 100-persent behaal het in die alpha-wiskunde-eindeksamenvraestel.
# Sowetan:
Berig oor Boinehelo Lefafe wat gister in die Landdroshof in Westonaria verskyn het in verband met die moord op ‘n mede-mynwerker. Lefafe het die man na bewering met ‘n mes doodgesteek en daarna foto’s van homself en die liggaam geneem.
# En The Citizen:
Skryf die Gautengse premier, Panyaza Lesufi gaan teen die minister van Polisie Bheki Cele se aanbeveling Gauteng se sogenaamde voetsoldate die amaPanyazas bewapen.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig eerstens vandag verder oor die Van den Heever-moordsaak in Welkom. Linda van den Heever word aangekla van die moord op haar eksman, André en die hof het gister gehoor hulle was gereeld in rusies gewikkel.
En tweedens skryf die koerant ses swaar gewapende mans in in hegtenis geneem ná ‘n transitorooftog in Bloemfontein.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig georganiseerde misdaad kos Suid-Afrika sowat 155-miljard-rand per jaar. Intussen vermors staatsamptenare sowat 1,5miljard-rand deur finansiële wangedrag.
En tweedens skryf die koerant oor die 18-jarige Taariq Hendricks van die Pinelands High School wat die Springbok-embleem teen FlySafair se vliegtuie ontwerp het.
# En Cape Times:
Skryf die student wat in hegtenis geneem is nadat hy na bewering sy vrou by die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie met ‘n mes aangeval het, het glo ook ‘n onverwante verkragtingsaak teen hom.
En berig Kaapse vissers is omgekrap omdat hulle visvangkwotas ingeperk is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig vier mense is Sondagaand in KwaDesi doodgeskiet terwyl hulle besig was om na ‘n sokkerwedstryd te kyk.
En skryf ’n houer met ’n hoogs giftige stof het vermis geraak, en daar bestaan kommer dat dit in die verkeerde hande kan beland.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf ‘n bende moordenaars het Diwali gebruik as rookskerm om vyf mense in Umlazi dood te skiet.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die inwoners van Groot Aub is omgekrap oor die Stad Windhoek se mislukking om die dorp se sake in orde te kry.
En tweedens skryf die koerant die regering se plan om ’n landswye minimumloon in te stel, moet nou teen Maart 2024 afgehandel wees.